Soeke na gas, olie aan kus ‘mors van geld’

Die skip gaan kort-kort klankskote afvuur. (Foto: Steven Watkins/MarineTraffic.com)

Die gas-en-oliereus Shell se planne om eersdaags vir aardgas en ruolie aan die Wildekus van Suid-Afrika te soek, is volgens energiekenners nie die moeite en geld werd nie, aangesien die vraag na hernubare energiebronne nou al hoe groter word.

Omgewingsbewaarders waarsku boonop dit kan katastrofiese gevolge vir die seelewe in dié gebied inhou.

Dit hou wel ook beduidende voordele vir die plaaslike ekonomie in, sou olie en gas hier ontdek word.

Shell is onlangs oor die kole gehaal oor sy planne om van 1 Desember af seismiese opnames van Morgansbaai tot by Port St. Johns te laat uitvoer, op soek na gas en olie op die seebodem.

Die proses behels dat ʼn skip, wat daagliks miljoene rande kos om te bedryf, heen en weer oor ʼn gebied van 6 011 km² beweeg en kort-kort klankskote afvuur. Gespesialiseerde toerusting sal dan die beweging van klankgolwe volg en ʼn beeld vorm van wat onder die seebodem aangaan.

Hierdie skokgolwe sal dag en nag, elke 10 sekondes, vir sowat vyf maande afgevuur word.

ʼn Onafhanklike energiekenner, Roger Lilley, het aan Maroela Media verduidelik dat die moontlikheid om gas en olie plaaslik te myn beslis beter sekerheid en stabiliteit vir onder meer die prys van ruolie in die land sal beteken.

“Indien Suid-Afrika sy eie bron van gas en olie kan kry, sal ons nie geraak word deur invoerkoste of kwessies wat verband hou met buitelandse valuta nie. Ons sal ten minste met ons gasvoorraad selfonderhoudend kan word.”

Ondanks die moontlike voordele wat Shell se bedrywighede vir die land inhou, bieg Lilley dat hy steeds gekant is teen die verkenning van ʼn gebied wat dalk nie eens die nodige hulpbronne sal oplewer nie.

“Gas is ʼn fossielbrandstof en hoewel dit beter is as die meeste energiebronne en talle lande steeds daarvan gebruik maak, word daar al hoe meer klem geplaas op die ontginning en gebruik van herwinbare energiebronne.”

Pres. Cyril Ramaphosa het juis enkele weke gelede aangekondig dat Suid-Afrika ʼn R130 miljoen-hulppakket van eerstewêreldlande ontvang om oor te skakel van  die gebruik van steenkool en gas na natuurlike maniere van kragopwekking, soos son- of windkrag.

“Dit is dus onverstandig om soveel geld en tyd aan die ontginning van fossielbrandstowwe te bestee, wanneer hulpbronne eerder aan nuwe en moderne ontwikkeling bestee kan word.”

Volgens Lilley is die regering gretig om ʼn gasprogram van stapel te stuur om die land self te onderhou. Dit sal die regering egter miljoene rande kos indien Shell wel die nodige hulpbronne vind. Dan moet die infrastruktuur vir die projek nog gebou word.

“Ek stem saam dat Suid-Afrika moet wegbeweeg van ingevoerde hulpbronne, maar die land het nie fossielbrandstof nodig nie. Die geld kan eerder aan batterybergingsfasiliteite bestee word of hernubare energiebronne soos hidro-energie wat elektrisiteit met behulp van water kan opwek,” sê hy.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP van minerale hulpbronne en energie, deel Lilley se sentiment en meen dat hernubare energie, veral in die produksie van groen waterstof, groot belofte toon om die hedendaagse ekonomie se afhanklikheid van fossielbrandstowwe te beëindig.

Hy sê die wêreld se ruolievoorraad sal na raming vir die volgende 47 jaar voldoende wees en aardgas vir nog 52 jaar. “Die ontdekking van nuwe olie- en gasvelde het dus nie dieselfde dringendheid as enkele dekades gelede nie.”

Grootskaalse gevolge vir die omgewing

(Foto: Francesco Ungaro/Unsplash)

Die bewaringsorganisasie Oceans not Oil het ʼn petisie teen die beplande projek opgestel, juis omdat hulle meen dat die opnames ʼn katastrofiese uitwerking op die gebied se seelewe en groter omgewing kan hê. Die petisie het reeds derduisende handtekeninge gewerf.

“Alle seelewe in die gebied en omliggende omgewing, van groot tot klein, sal hierdeur geraak word,” sê Janet Solomon, stigter van Oceans not Oil.

“Noodsaaklike organismes soos plankton en koraal sal heeltemal uitgewis word, terwyl dit ook noodlottig vir groter diere kan wees.”

Volgens Solomon kan skokgolwe veroorsaak dat seediere wat afhanklik is van hul gehoor om te kommunikeer, rigting te bepaal, kos te vind of vroegtydig van roofdiere te ontsnap, eindelik doof word en stadig vrek. Die skokgolwe kan daartoe lei dat seediere wat maklik skrik, vinnig na die oppervlak swem en só beseer word.

Die onophoudelike skokgolwe kan boonop visse wegjaag, wat talle visserye in die gebied sal benadeel.

“Die lys van nadele is oneindig lank, van nuutgebore en bedreigde seeskilpaaie wat byna onmiddellik tot sterwe sal kom, tot migrerende diere wat liefs die gebied sal vermy en die ekosisteem omver sal gooi. Die gevolge van die opnames kan jare lange skade aan die omgewing, asook ondernemings in die gebied verrig,” sê sy.

Die probleem met enige soort verkenningsprojekte soos dié is dat dit dalk nooit sal ophou nie en net verder na ander gebiede uitbrei, waarsku Lilley.

“Dit het reeds gebeur met verskeie myne en daar is geen waarborg dat dieselfde nie met hierdie soektog gaan gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Francios ·

Ek is so bietjie onseker. Ons het iets nodig om die rand so bietjie te lig. Olie sal beduidende invloed hê om juis dit te doen.

ONTPS ·

Is seker so, maar wat doen ons as die seelewe heeltemal omvergewerp / vernietog word en verdere werksverliese tot gevolg sal hê? Dit sal ‘n doodskoot vir die toerismebedryf in die streek wees

Dapper Patriot ·

Suid-Afrika kan al die hulpbronne in die wêreld hê en die rand sal swak wees. Ons probleem is die staat, nie ‘n tekort aan hulpbronne nie.

annie ·

…dan sê Lilley dit en dan sê hy dat… maar eintlik hou hy van die idee en Shell hou van geld en skade vér van die eie haard is maar okei… Ons almal weet hoe die spulletjie sal verloop, sou olie of gas gevind word, dit sal funksioneer, wie bevoordeel sal word en wat die tragiese uitloop sal wees. Wie betaal vir die daaglikse bomme-reën? Gierige kaders gebruik staatsgeld om groot olie-baronne te word, min gespin oor beloftes en die ondertekening van die klimaatsverdrag net gister… en die gevolglike skade.

Danie ·

En wie van die narre in die regering dink dat hierdie 4de wereld land enigsins in die volgende 100 jaar sal kan oorskakel van steenkool en olie na enigiets anders.
Dis net n gepraat om net geld te kan ontvang wat kan verdwyn tussen die comrades.

annie ·

Die nut van steenkool, olie en gas kan nie betwyfel word nie, maar die skadelike wyse waarop dit ontgin en vrygelaat word, moet gestaak word… En dit kan verfyn word, maar dit sal nie in SA aangevoor of toegepas word nie. Waar Shell ook al gewerk het, het grootskaalse skade en vernietiging gevolg en SA is al plek wat hul nog nie getakel het nie.

Herman ·

R130 mil gaan ons nie ver bring nie. Jy kan nie eers een wind of sonplaas bou nie. Krag vir klein dorp. En dis as die geld reg aangewend word. Ons gaan met steenkool sit vir ewig.

Charles ·

R130mil kan 10 x daai grootte hernubare energie doen omdat dit slegs die subsidie of finansieele marge hoef te dra wat n groot projek winsgewend maak.

Wiehan ·

Almal is nou so op die wa met hernubare energie, maar my vraag is: daar gaan miljoene baterrye gemaak moet word vir dit. Wat is die impak op die omgewing en natuur om die minerale vir die battreye te kry. Dan nie eers te praat van na 20 to 25 jaar, waar gaan al die onbruikbare batterye “gedump” word. 6 Van die een, half dosyn van die ander.

marius ·

Wat het van jou Groen beginsel geword meneer die hoofman van die mishoop? Leuenaars!

casper ·

Die wat glo dat ons as bevolking sal baat vind by enige bvonds is totaal van die merk af.
Ons het Sasol wat al vir 35 jaar brandstof maak maar ons betaal internasionale pryse vir dit!!!!!!
Stop die mense on ons te eksploiteer !!

LeonS ·

Ja, Soos Sasol ons help met brandstof pryse, net kaders sal baat

Charles ·

Geen hoeveelheid nuwe natuurlike hulpbroone sal SA help nie. Dit sal waarskynlik die teenoorgestelde effek hê omdat dit die ruling elite sal bevoordeel ten koste van die armes. Kyk na enige ander land waar korupsie hoog is. Wat SA nodig het is n bevoegde regering wat in die beste belang van al sy burgers op tree. Kyk na Suid Korea, ryk land met geen noemens waardige natuurlike hulp bronne nie. Selfde met Israel, ens.

JohanR ·

Wie het Shell permissie gegee om die Wilde Kus op te mors? ‘n ANC minister, met nou ‘n vet bank rekening?

Dapper Patriot ·

Ja om self onderhoudend te wees is moontlik, maar nie met die hulp van die staat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.