Soeke na gas, olie begin gou aan kus

Green Connection en bestaansvissermanne het al seimiese opnames in die hof betwis. (Foto: Verskaf)

Groot ongelukkigheid heers oor twee organisasies wat die afgelope maande die groen lig gekry het om seismiese aktiwiteite aan die Suid-Afrikaanse kus uit te voer.

ʼn Seismiese opname om na aardgas en ruolie te soek, sal binnekort aan die ooskus onderneem word nadat die departement van minerale hulpbronne goedkeuring hiervoor aan die geofisiese navorsingsmaatskappy CGG Services SAS (CGG) toegestaan het.

ʼn Australiese maatskappy, Searcher Geodata, wat in Brittanje gesetel is, beplan boonop om in Januarie ʼn seismiese opname aan die Weskus te begin.

Hoewel dié maatskappye aanvoer dat die skade aan seediere minimaal sal wees, meen kenners die impak hiervan op seelewe is steeds noemenswaardig.

Daarom is gemeenskappe en omgewingsgroepe opnuut besig om landwyd in opstand te kom teen dié pogings om na gas en olie aan die Suid-Afrikaanse kus soek.

Jacob Mbele, direkteur-generaal van die departement van minerale hulpbronne, het in sy magtiging aan CGG gesê die departement is tevrede met die inligting wat aan hom verskaf is oor die voorgestelde seismiese opname en dat dit “nie enige nadelige risiko’s vir die omgewing en die publiek inhou nie”.

Skokgolwe sal vir sowat vyf maande op die seebodem tussen Gqeberha en Plettenbergbaai afgevuur word om na gas en olie te soek.

Die skokgolwe sal aaneenlopende seismiese geluide teen 255 desibel uitstuur om ʼn driedimensionele kaart van die seebodem en onderliggende geologie te skep. Dit raak gevaarlik vir mense om enige klanke bo 150 desibel te hoor, aangesien dit so hard soos vuurwerke en geweerskote kan wees.

CGG sê sy soeke na gas en olie is glo om ʼn koolstofvrye wêreld, in die stryd teen klimaatsverandering, vinniger te help verwesenlik.

Sou geen appèl teen die komende seismiese opname aangeteken word nie, sal CGG in Januarie begin om opnames in waterdieptes van tussen 200 m en meer as 4 000 m te doen. Partye het tot 13 Desember om teen die omgewingsmagtiging te appelleer.

Peter Mbelengwa, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het op ʼn navraag gesê sy departement sal voorts enige appèlle hanteer.

‘Versagtingsmaatreëls verminder impak’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Seismiese geraas wat aan die seebodem gemaak word, kan mariene lewe op ʼn aantal verskillende maniere raak, maar luidens CGG Services SAS se omgewingsimpakstudie sal sy versagtingsmaatreëls help om die risiko’s te mitigeer.

Luidens die studie kan skokgolwe seediere se gehoor en kommunikasievaardighede beïnvloed, asook gedragsveranderinge tot gevolg hê.

Janet Solomon, stigter van die bewaringsorganisasie Oceans not Oil, sê seediere wat veral afhanklik is van hul gehoor om te kommunikeer, rigting te bepaal, kos te vind of vroegtydig van roofdiere te ontsnap, kan doof word en stadig vrek.

Noodsaaklike organismes soos plankton en koraal kan boonop heeltemal uitgewis word.

Nico Booyens, mariene bioloog en hoofnavorser by die haainavorsingseenheid in Mosselbaai, sê sy grootste bekommernis is die haaie, spesifiek witdoodhaaie wat al langs die suidoostelike dele van die kus beweeg. Hy vermoed seismiese aktiwiteite kan dié diere verder noord dryf.

“Die feit van die saak is dat herhaaldelike skokgolwe bloot net nie goed is vir seediere wat sensitief is vir klank nie.”

CGG Services SAS sê egter weens die implementering van sy versagtingsmaatreëls is die gevare vir walvisse, dolfyne, seeskilpaaie en visse “laag” en die gevare vir seevoëls, robbe en plankton “baie laag”.

Dit is omdat die maatskappy eerstens nie die seismiese opname gedurende die hoofmigrasieperiode vir walvisse – wat vanaf Junie tot einde November is – en visse- en tjokkas se broeityd – van September tot Desember – gaan doen nie.

“ʼn Uurlange soekperiode vir seediere gaan ook voor die aanvang van die opnames gebeur,” lui die omgewingsimpakstudie.

“Daar sal ook deurlopend gemonitor word of seelewe binne 800 m van die aktiewe seismiese klankbron is. Indien seediere teenwoordig is, sal die opname tydelik gestaak word.”

Die maatskappy sê hy het ook voorsiening gemaak vir die visvangsektor en tot die gevolgtrekking gekom dat die impak op dié sektor “uiters laag” gaan wees. Hy het onderneem om nogtans deurlopend met skeepsvaartuie te kommunikeer en die nodige hulpbronne beskikbaar te stel om klagtes oor die opname te hanteer.

‘Hou hande van ons kuslyn af’

Bogenoemde maatreëls is skynbaar nie genoeg om omgewingsbewustes gerus te stel nie.

Die Plettenbergbaai‑gemeenskapsomgewingsforum het in ʼn ope brief aan die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gevra om gemeenskappe se bekommernisse oor seismiese opnames aan die nasionale regering te opper.

“Die kus van Suid-Afrika staar ʼn aanslag deur multinasionale maatskappye in die gesig, wat Suid-Afrika wil gebruik in hul waansinnige gryp na hulpbronne, en uiteindelik geld,” lui die brief.

Die organisasie sonder winsbejag, Protect the West Coast (PTWC), het selfs ʼn nasionale optog vir Saterdag beplan in ʼn poging “om die land te verenig teen die soeke na gas en olie aan Suid-Afrika se kus”.

“Multinasionale korporasies, insluitend Shell, Qatar, Total Energies en kontrakteurs soos CGG en Searcher Geodata, is onder die fokuspunte van die jongste rondte van openbare verontwaardiging,” sê PTWC.

Searcher Geodate het verlede jaar probeer om ʼn seismiese opname aan die Weskus te begin, maar is gestuit deur ʼn interdik wat in Maart verlede jaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof deur kleinskaalse vissers en die burgerregteorganisasie We Are South Africans verkry is.

In Desember verlede jaar het die departement van minerale hulpbronne en energie egter goedkeuring toegestaan ​​nadat ʼn nuwe aansoek ingedien is.

Vissersgemeenskappe is bekommerd dat die opname ʼn groot impak op die getal visse in die gebied kan hê, en dus hul lewensbestaan in gedrang bring.

“Hierdie gemeenskappe het nie veel vertroue in die studies wat onderneem is om die impak op hul lewensbestaan te bepaal nie,” het Liz McDaid, woordvoerder van die drukgroep Green Connection, aan GroundUp gesê.

Die drukgroep het appèl aangeteken nadat Searcher sy omgewingsmagtiging ontvang het, maar dit is van die hand gewys. Green Connection beoog nou om ʼn regsmening in te win om te bepaal of hy vir ʼn interdik kan aansoek doen voordat die seismiese opname op 1 Januarie begin.

Vir die interdik om toegestaan te word, moet dit verskil van die appèl wat Green Connection destyds by die departement van bosbou, visserye en die omgewing ingedien het. Dit moet ook ʼn “redelike vooruitsig op sukses” hê, maar “die tyd stap aan,” sê McDaid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.