Soekgeselskap vir vermiste Centurion-tienermeisie

Wilmarie van Wyk.

Wilmarie van Wyk.

OPVOLG: Wilmarie is gevind. Lees meer hier.

Lede van die Centurion-gemeenskap gaan Dinsdagmiddag ʼn soekgeselskap reël vir Wilmarie van Wyk (17), ʼn jong epilepsielyer wat Maandag verdwyn het.

Van Wyk, ʼn graad 11-leerling aan die Hoërskool Uitsig, was nie Maandag by die skool nie, aangesien sy glo siek was en afgeboek is.

Pierre Viviers, voorsitter van die Wierdabrug Sektor 2 se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Dinsdag aan Maroela Media gesê Van Wyk is vir die laaste keer tussen 10:00 en 12:00 gesien. ʼn Veiligheidswag het glo gesien toe sy te voet haar ouerhuis in die veiligheidskompleks in Amberfields Heights verlaat het.

Sy was omstreeks 12:00 vir die laaste keer op WhatsApp en haar selfoon is sedertdien afgeskakel. Haar ma en vriendin het haar al talle male tevergeefs probeer kontak.

Haar ouers is bekommerd en weet nie of sy enige epilepsie-medikasie by haar het nie. Volgens haar ouers lyk dit nie of sy ekstra klere gevat het buiten die denimbroek, swart hemp en denimbaadjie wat sy aangehad het toe sy die laaste keer gesien is nie.

Sy het ligtebruin hare, blou oë en is ongeveer 1.67 m lank.

ʼn Vermistepersone-saak is by die Wierdabrug-polisiestasie aanhangig gemaak.

Die soekgeselskap begin om 16:00 op die hoek van Kolgansstraat en Rooihuiskraalweg. GPF-lede en vrywilligers gaan die gebied in die rigting waar sy vermoedelik heen gestap het, fynkam vir meer leidrade.

Mense wat weet waar Van Wyk haar bevind word versoek om Viviers by 083 737 7902 of die Wierdabrug-polisiekantoor by 012 654 3131 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sproetjies ·

Wat gaan aan in Centurion. Wat sou die rede wees dat die tieners nou so aanhoudend daar wegraak. Is Centurion dan nie nou die “Drugmekka” van. Pretoria nie. Hoekom is die kind in die straat wanneer sy veronderstel is om afgeboek te wees?

Maraai ·

Iewers is daar ñ slang in die gras…
Ek hoop wel sy word veilig gevind.

ANDRE ·

Daar is n probleem in Centurion , dit is nou die derde geval in n baie kort tydtjie waar tiener dorters “verdwyn”. KOMMERWEKKEND !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.