Soektog afgelas ná man in see verdwyn

Foto: Twitter via @medicnick83

Die soektog na ʼn man wat Maandagoggend in die see by ʼn Kaapstadse strand verdwyn het, is afgelas.

Die Stad Kaapstad se Richard Bosman het gesê die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die soektog na die 25-jarige man afgelas omdat rowwe seetoestande die soektog onmoontlik gemaak het. Die lugsoektog is ook afgelas.

Volgens Bosman het die man in die see by die Monwabisi-strand geswem toe hy deur sterk seestrome dieper die see in meegesleur is. Die strand word deur lewensredders beman, maar die man het ongeveer ʼn kilometer weg van die aangewysde swemarea geswem.

Dit is nie duidelik wanneer die soektog na die man voortgesit sal word nie.

Bosman het gesê die stad se strande was Maandagoggend nog stil, maar owerhede het verwag dat skares teen die middag op die strande sal toesak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.