Soektog afgelas na vermiste DA-lid

Petro Nel. Foto: Facebook

Petro Nel. Foto: Facebook

Die soektog na die vermiste adjunkleier van die Demokratiese Alliansie in Noordwes, Petro Nel, is in Nepal afgelas.

Die ligte vliegtuig waarin sy gereis het, het op 8 Oktober verdwyn. Nel en ʼn Russiese vlieënier, die enigste insittendes, het nie ná ʼn besigtigingsvlug teruggekeer nie.

Nicolize van der Walt, woordvoerder vir die DA, het Woensdag bevestig die soektog is afgelas en Nel se man, JC [Nel], en hul twee seuns, Johnny en Juan is op pad terug na Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig haar man en twee seuns het Maandag by ʼn tempel in Pokhara, Nepal, afskeid van haar geneem.

“Hulle het die laaste paar dae in Nepal gebruik om die lewe van ʼn buitengewone vrou te vier en die geleentheid te gebruik om van haar afskeid te neem,” het Van der Walt gesê. “Die familie, asook Petro se ma en suster Wilma gaan deur ʼn emosionele tyd en ons versoek dat almal hul privaatheid sal respekteer en eerder van die tyd gebruik sal maak om Petro te vereer vir die uitstekende werk wat sy in haar gemeenskap gedoen het.”

Van der Walt het gesê sodra die familie gereed is, sal ʼn geleentheid gehou word om haar lewe te gedenk, en almal wat vir haar lief was of wat haar respekteer het, sal dié geleentheid kan bywoon. “Ons hoop dat só geleentheid berusting en afsluiting sal bring. Daar is nog nie ʼn datum bepaal nie. Ons respekteer die familie se privaatheid in die saak.”

Dit is vandag vier weke sedert die vliegtuig verdwyn het. “Die voorval het ons almal se lewens verander en sy sal nooit vergeet word nie,” het Van der Walt bygevoeg.

Nel het as ʼn wyksraadslid in die Matlosana-munisipaliteit gedien. Sy is op 25 Mei by die provinsiale kongres naby Brits verkies tot adjunkleier van die DA in Noordwes.

Lees alle vorige berigte oor Petro Nel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.