Soektog begin ná vliegtuig met 2 insittendes verdwyn

Die wit Savannah-vliegtuig (Foto: Facebook via Wild Coast South Africa)

Die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum (ARCC) het Donderdagoggend bevestig dat ʼn soektog na ʼn vermiste ligte vliegtuig en twee insittendes van stapel gestuur is nadat dié vliegtuig Woensdagmiddag tydens ʼn toetsvlug vermis geraak het.

Santjie White, hoof van die sentrum, het aan Maroela Media gesê die vliegtuig was glo laas tydens die toetsvlug aan die ooskus in Oos-Londen gesien.

White sê verskeie soek-en-reddingspanne is tans besig met lug- en grondsoektogte, maar geen leidraad is nog in dié stadium gevind nie.

Volgens haar kon die wit Savannah-vliegtuig waarskynlik nie ver van die lugmagbasis af vermis geraak het nie omdat toetsvlugte naby aan die basis moet geskied.

“Talle soektogte vir die vliegtuig en die twee insittendes is begin en geen steen sal onaangeroer gelaat word nie. Die soektog word wel tans deur weersomstandighede bemoeilik en ons moet te alle tye die veiligheid van ons soek-en-reddingspanne in gedagte hou, maar daar is baie beplanning wat in hierdie soektogte ingaan. In dié stadium hoop ons net vir die beste,” sê sy.

White sê die ARCC wag tans vir radarbande van die lugmagbasis wat waarskynlik sal kan help in die soektog. “Ons kan nog nie bevestig dat daar wel kommunikasie tussen die vliegtuig en die basis was nie, maar indien daar wel was, sal dié radarbande ons soektog baie help. Sulke bande sal waarskynlik help om die soekgebied selfs kleiner te maak.”

Meer inligting was nie onmiddellik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

Ek wil nie spoke opjaag nie, maar as die vliegtuig laas aan die kus gesien is, lê hy waarskynlik nou in die see… Mense most maar versigtig wees, ongelukke gebeur so maklik.

Pilot ·

Enige iemand wat n pilot is, is versigtig. Niemand stuig op met die doel om nie versigtig te vlieg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.