Soektog duur voort ná man van boot verdwyn

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

ʼn Man wat vermoedelik Saterdagnag van ʼn boot af geval en in die see by die kus van Mosselbaai beland het, word steeds vermis.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê die soektog na Lemuel John Ventura (37) het Dinsdagoggend hervat. “Polisieduikers kon nie Maandag met die soektog voortgaan nie omdat die seetoestande te rof was. Die soektog is egter vroeg vanoggend hervat, maar het tot dusver nog niks opgelewer nie,” het hy gesê.

Volgens Pojie is bemanningslede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op bystand tydens die soektog.

Maroela Media het vroeër berig die NSRI in Mosselbaai is Sondagoggend ontbied nadat Ventura vermis geraak het. Volgens Pojie het Ventura glo sy selfoon op die boot gaan soek, maar nie weer teruggekeer na die bemanningslede se woonkwartiere nie. Sy kollegas het Sondag om 01:30 begin om die boot te fynkam en die polisie is later ontbied nadat Ventura nie gevind kon word nie.

Daar word vermoed dat Ventura op ʼn manier in die water beland het.

Ventura is ʼn inwoner van Kwanonqaba in Mosselbaai. Pojie het gesê in dié stadium is ʼn vermistepersoonsaak by die polisie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.