Soektog duur voort na ontsnaptes

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die polisie in KwaZulu-Natal is steeds op die spoor van 16 verhoorafwagtendes wat Woensdag in Pietermaritzburg ontsnap het. Die groep was deel van 45 verhoorafwagtendes wat van die tronk na die Pietermaritzburg-landdroshof vervoer is toe gewapende aanvallers die voertuig van die pad af gedwing het.

Maroela Media het vroeër berig die polisie kon daarin slaag om van dié ontsnaptes weer in hegtenis te neem.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee polisiebeamptes wat voor in die vragmotor gery het, het geringe beserings opgedoen toe die voertuig die sypaadjie getref het ná dit van die pad af gedwing is. Vyf gewapende mans, wat in ʼn dubbelkajuitbakkie gery het, het vuurwapens op die polisiebeamptes gerig en een van die mans het ʼn boutsnyer gebruik om die slotte agterop die voertuig oop te sny.

“Van die gevangenes het in die voertuig gebly terwyl ander hulself by verskeie polisiestasies in Pietermaritzburg oorgegee het. Ander is deur polisiebeamptes in die stad voorgekeer,” het Naicker bygevoeg.

Teen Woensdagmiddag laat was 27 van die 45 gevangenes weer terug in polisieaanhouding. Nog twee is vanoggend aangekeer en dit bring dus die getal voortvlugtiges op 16 te staan:

– Siphelele Chamane (28) – moord
– Mbukiseni Ndlovu (38) – moord
– Mpho Phalo (31) – moord
– Mphali Khanyiso Kou (30) – moord
– Thubelihle Dlomo (19) – moord
– Sphelele Ntsuntsu Mkhize (35) – roof/verkragting
– Kabelo Mtisilwane (27) – roof
– Wiseman Shezi (26) – roof
– Talent Mncube (19) – aanranding met die doel om ernstig te beseer
– Mlungisi Caster Ndlovu (25) – diefstal
– Skhumbuzo Ngcobo (36) – diefstal van motorvoertuig
– Sbonelo Bhengu (31) – opsetlike saakbeskadiging
– Fonane Paulo Pone (31) – oortreding van die Immigrasiewet
– Frank Lutchman (23) – oortreding van die Immigrasiewet
– George Paul (29) – oortreding van die Immigrasiewet
– Mlungisi Mncwabe (43) – poging tot moord

Naicker sê gespesialiseerde multidissiplinêre spanne is aangestel om diegene op te spoor wat nog voortvlugtig is. “Die spanne sal onverpoosd werk totdat elkeen aangekeer is. Geen steen sal onaangeraak bly nie en die spanne het al die nodige hulpbronne en kennis tot hul beskikking om hul sending te voltooi.”

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, het ook die toneel van die ontsnapping besoek en spesifieke opdragte vir senior beamptes van die Umgungundlovu-distrik en provinsiale kantoor gegee. “Alhoewel ons daarop fokus om die voortvlugtiges aan te keer, word die ontsnapping ook ondersoek uit ʼn strafregtelike perspektief.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maggies ·

Dit is skokkend en vreesaanjaend om te besef dat sulke wreedaardige elemente op straat is.

SjN ·

Hulle sal self terugkeer as hul honger raak, baie voordeel word ontvang, tot die deur word saans vir jou gesluit en die lig word ook af geskakel.

Jakes ·

Waarom was daar nie n tweede polisievoertuig wat voor die vangwa moes ry in hierdie spesifieke geval nie? Dit is n baie streng reel by Korrektiewedienste wat streng toegepas moet word wanneer gevangenis van of na die tronk vervoer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.