Twee dae sedert ʼn jong seun in die see by die Strand naby Kaapstad verdwyn het, is daar nog geen teken van die kind gevind nie.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het aan Maroela Media bevestig die soektog na die seun, vermoedelik tussen 12 en 13 jaar oud, gaan steeds voort. Volgens Lambinon het die soektog tot dusver geen nuwe inligting opgelewer nie.
Maroela Media het vroeër berig volgens ooggetuies het die seun Saterdag omstreeks 14:36 saam met maats in die see geswem toe hy in die moeilikheid beland en onder die water verdwyn het.
Paramedici, die polisie, brandweerdienste en ’n lugambulans is na die toneel ontbied en ʼn lug-, see- en kussoektog is begin.
Intussen word ook steeds in die see by Wedge Beach in Durban, KwaZulu-Natal na ʼn man gesoek wat laat gistermiddag in die see verdwyn het.
André Fletcher, bevelvoerder van die NSRI in Durban, het gesê die NSRI en eThekwini-lewensredders is om 17:30 na die strand ontbied om ʼn 29-jarige man te hulp te snel nadat ooggetuies gesien het hoe hy onder die water verdwyn. Lewensredders het met behulp van ʼn waterponie na die man begin soek, terwyl NSRI-reddingsduikers ook die water gefynkam het.
ʼn NSRI-seereddingsboot is ingespan en soek-en-reddingsbeamptes van die SAPD het ook by die reddingspogings aangesluit.
Ondanks die uitgebreide kus- en seesoektog, kon daar nog geen teken van die man gevind word nie. Die soektog duur voort.