Soektog duur voort na vasgekeerde mynwerkers

Argieffoto

Harmony Gold het Dinsdag gesê reddingspanne werk steeds onverpoosd voort om die twee vasgekeerde mynwerkers by sy Kusasalethu-myn in Carletonville na die oppervlak te bring.

Vyf myners is Vrydag ondergrond vasgekeer toe ʼn grondstorting omstreeks 10:30 plaasgevind het. Die maatskappy het bevestig ʼn seismiese gebeurtenis van 1.8 het 3,1 km ondergrond plaasgevind.

Drie liggame is intussen na die oppervlak gebring.

Peter Steenkamp, uitvoerende hoof, het gesê uitdagende grondtoestande bemoeilik die reddingspoging.

“Die regering, vakbonde en Harmony het ʼn gedeelde doelwit: ons sal nie rus totdat die twee werknemers gevind en na die oppervlak gebring is nie,” het hy gesê.

Die Kamer van Mynwese het ook intussen sy innige meegevoel betuig met die families, vriende en kollegas van die drie werknemers wat gesterf het.

Suid-Afrika het van die wêreld se diepste myne (tot 4 km ondergrond in sommige gevalle) en die Kamer van Mynwese het gesê dit bly ʼn uitdaging en bring verskeie risiko’s mee.

Lees alle vorige berigte oor die Kusasalethu-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.