Die soektog duur voort na ʼn 12-jarige meisie van Kaapstad wat twee weke gelede op pad skool toe onder raaiselagtige omstandighede verdwyn het.
Lunamandla Sithonga, van Khayelitsha, is op 9 Julie vir die laaste keer gesien toe die skoolvervoer haar Eastridge in Mitchells Plain afgelaai het. Sy het haar rooi en blou Eastville Primary School-uniform aangehad en ʼn Nike-rugsak gedra.
Lunamandla is medium gebou met bruin oë en kort swart hare wat in vlegsels vasgemaak is.
Lede van die gemeenskap in Khayelitsha en Mitchells Plain soek onverpoosd na die graad 6-leerling, maar hulle het nog nie enige vordering gemaak nie.
Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling het Maandag gesê ʼn span maatskaplike werkers het die familie besoek te midde van kommer oor haal welstand. “Ons versoek die gemeenskap om ons oë en ore te wees,” lui ʼn verklaring. Enigiemand met inligting oor Lunamandla word versoek om die polisie te kontak.
ʼn Span maatskaplike werkers bied bystand aan die gesin en bure. Die gemeenskapspolisiëringsforum in Khayelitsha versprei ook inligting oor haar op sosiale media en maan enigiemand met inligting om na vore te kom.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Ai, die arme meisie, ek bid dat sy veilig gevind sal word.