Soektog duur voort ná vrou in vloedwater verdwyn

Foto: ER24

Foto: ER24

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het by Gautengse nooddienste aangesluit om te help soek na ʼn 58-jarige vrou wat vermis is nadat haar motor Donderdagaand van ʼn laagwaterbrug in die noorde van Johannesburg meegesleur is.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê NSRI-beamptes het Saterdag by die nooddienste aangesluit by hul soektog in die Klein Jukskeirivier in Fourways.

“Nooddienste het die gebied al gefynkam sedert die voorval plaasgevind het, en die NSRI is versoek om by die soektog betrokke te raak,” het Lambinon gesê. Die soek-en-reddingspan bestaan uit die NSRI se Victoria Lake-bemanningslede, die polisie se duikeenheid en honde-eenheid. ʼn Polisiehelikopter word ook ingespan.

Die rivier word van Fourways tot by Hartbeespoortdam gefynkam. Die soektog het tot Dinsdagoggend niks opgelewer nie, maar duur voort.

Maroela Media het vroeër berig die vrou het glo ʼn laagwaterbrug naby Chartwell naby Fourways probeer oorsteek, toe ʼn sterk stroom haar motor teen die brug se versperring vasgedruk en in die rivier meegesleur het. Daar word vermoed dat sy uit die motor geklim het in ʼn poging om by die bank van die rivier uit te kom, toe sy verder deur die vloedwater meegesleur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Karma ·

Ek kan hierdie ding van ‘n laagwaterbrug probeer oorsteek wanneer die rivier in vloed is, net nie verstaan nie. Dit is tog logies: as jy nie die oppervlak van die pad onder die water kan sien nie, is die water te hoog en moet jy nie probeer om deur te ry nie. Ewenwel, ek dink ons kan aanvaar dat die vrou verdrink het – meegevoel aan die familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.