Soektog na Alzheimer-lyer duur voort

Lorraine Jantjies (78) word sedert Februarie vanjaar vermis. (Foto: Verskaf)

Die soektog na die vermiste Lorraine Jantjies (78) wat ’n dag ná Valentynsdag vanjaar verdwyn het, duur steeds voort.

’n Skraal Jantjies, wat ook aan Alzheimer se siekte ly, is glo op 15 Februarie laas gesien nadat sy haar huis in Genadendal in die Wes-Kaap verlaat en nooit weer teruggekeer het nie.

Haar bejaarde man, Freddie, was ten tyde van haar verdwyning by ’n kliniek om medikasie vir kankerbehandeling te ontvang en dus kan die presiese tyd wat Jantjies die huis verlaat het, nie bevestig word nie. Daar word egter vermoed dat sy tussen 09:00 en 14:00 op die betrokke dag verdwyn het en dat sy ’n swart broek en groen bloes aangehad het.

Volgens Jantjies se kleinneef, Albert Adams, het Freddie nie dadelik onraad vermoed toe hy 14:00 by die huis kom nie, maar aangeneem dat sy vrou winkel toe gestap het.

“Sy is vergeetagtig en nou en dan nie haarself nie.

“Toe ’n ander familielid ongeveer 18:00 by die huis kom, het Freddie hom polisiestasie toe gestuur om te hoor of Lorraine dalk daar is. Hulle bring haar altyd huis toe as hulle haar kry. Die man het glo nooit gegaan nie.”

Adams sê hy is ’n dag later oor die voorval ingelig waarna hy hom na Genadendal gehaas het. Hy en Freddie het Jantjies daarna as vermis by die polisie aangemeld.

Lorraine Jantjies (78) word sedert Februarie vanjaar vermis. (Foto: Verskaf)

Volgens brig. Donovan Heilbron, polisiewoordvoerder, is ’n familielid al twee keer oor die afgelope paar maande in verband met Jantjies se verdwyning ondervra, maar ontken steeds dat hy/sy enigiets daarmee te doen het.

“Ons het in dié stadium nie genoegsame bewyse om iemand in hegtenis te neem nie, asook geen nuwe inligting in verband met die saak nie.”

Volgens Heilbron het die polisie inligting ontvang dat daar glo ’n rusie met die betrokke familielid was.

“Ons volg intussen elke moontlike leidraad op en is steeds hoopvol dat sy lewend gevind sal word. Solank daar nie ’n liggaam is nie, is daar steeds hoop,” sê Heilbron.

Adams meen dat die polisie op Genadendal nie genoeg aandag aan die saak skenk nie. Daar word volgens hom ook nie daadwerklike pogings deur die polisie aangewend om Jantjies op te spoor nie.

“Volgens my lewe Lorraine nie meer nie en volgens die bewerings wat gemaak is en my eie gevolgtrekkings bestaan die moontlikheid wel dat die familielid tog iets met haar verdwyning te doen het.”

Florien Deysel, stigter van die die organisasie Queen Red Ant Track and Trace Services, het op 22 Julie by die saak betrokke geraak.

Sy sê die organisasie sal vroeg in Augustus opnuut ’n soektog na Jantjies van stapel stuur en hulle verwelkom enige hulp van lede van die publiek.

Volgens Deysel is Jantjies se man uiters bekommerd oor haar welstand.

Enigiemand met inligting oor Jantjies kan Deysel by 061 123 3767 of 081 769 7714 bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

‘n Mens laat nie iemand wat aan Alzheimer ly, hoe gering ook al, alleen nie. Wat nog te sê om alleen na ‘n winkel/kafee te gaan. Dit is so hartseer want watter vrees moet sy nie nou deurgaan nie. Ek hoop sy word gou gevind en is ongedeerd.

Belinda ·

shame, as die dame nog lewe, wonder ek wat in haar gedagtes woel want sy moet verskriklik verwar wees. Ek hoop sy word gesond en veilig gevind. Dis erg om nie te weet waar jou geliewes is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.