Soektog na Baaise ma ‘’n doodloopstraat’

Silvia Wittal (45), ‘n ma van twee, word steeds vermis. (Foto: Verskaf)

Daar is nog geen inligting oor wat moontlik met die vermiste Silvia Wittal (45) kon gebeur het of waar sy haar nou bevind nie.

Wittal, ʼn Duitse burger van Richmond Hill in Gqeberha (Port Elizabeth), is al vir byna twee maande vermis en volgens Mike Venter, hoof‑ uitvoerende beampte van South African Community Crime Watch (SACCW) Missing Persons, het die ondersoek ʼn doodloopstraat bereik. SACCW werk saam met die polisie om Wittal op te spoor.

Wittal het op 30 Desember vermis geraak. Haar motor, ʼn silwerkleurige Kia Picanto, is ʼn paar dae ná haar verdwyning tydens ʼn uitgebreide soektog langs die Sacramento-voetslaanpad by Schoenmakerskop gevind. Dit was een van Wittal se gunstelingvoetslaanpaaie.

“Sedert die aanvanklike ondersoek begin is, is dit deur middel van ʼn kringtelevisiekamera se beeldmateriaal bevestig dat Wittal op 30 Desember om 14:48 self na Schoenmakerskop gery het,” sê Venter.

“’n Getuie het berig dat sy Wittal moontlik die oggend ná haar verdwyning alleen op die Sacramento-voetslaanpad gesien het. Weens die tydsbestek tussen die onderhoud en datum van verdwyning, kon dit egter nie ten volle bevestig word nie.”

Volgens Venter weet hulle nie wat Wittal by die voetslaanpad gaan maak het nie.

Die polisie se lugmag het die gebied en omliggende gebiede al gefynkam, maar dit het niks opgelewer nie. Private vlugmaatskappye is ook versoek om op hul daaglikse roetine-vlugte op die uitkyk vir Wittal te wees.

“Ons het nog geen konkrete leidrade om te ondersoek nie. Ons is by ʼn doodloopstraat. Ons moet weer van voor af begin en elke kleinste detail goed ondersoek.”

Volgens Venter is vasgestel dat Wittal op die dag van haar verdwyning die volgende items by haar gehad het: ʼn Soutpot, beursie, pienk dagboek, voertuigsleutels wat moontlik dié van haar motor is, ʼn blou rugsak en asmapomp.

“Nog nie een van dié items is egter opgespoor nie.”

Volgens Venter kan hy nog nie in hierdie stadium sê of vuilspel of selfdood vermoed word nie. “Ons hou al die opsies oop.”

Enigiemand met meer inligting wat tot Wittal se opsporing kan lei, kan konst. Ridwaan Baatjies by 073 130 3018 skakel of Venter by 067 371 3564 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Niklaas ·

Sulke nuus is gewoonlik nie baie gerusstellend in SA nie, maar laat ons hoop vir die beste.

Loveydove ·

Is daar nie n moontlikheid dat sy dalk land uit is nie.? Hoop van harte sy word gevind sodat hy familie rustigheid kan vind.

Perdeby ·

Nee wat of sy wil nie gekry word nie of die persoon/persone wat iets weet het seker gemaak sy word nooit weer gekry nie.

Blue eye ·

Dis my vraag ook hoekom n soutpot? Wat maak mens met n soutpot as jy gaan stap. Twee maande is al n lang tydperk gaan hulle haar ooit vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.