Soektog na bergklimmer tydelik gestaak

Taro Spies. Foto: Facebook

Taro Spies. Foto: Facebook

Die soektog na die ervare bergklimmer van Muizenberg wat sedert verlede Dinsdag vermis word, is tydelik afgelas weens mistige weer.

Maroela Media het vroeër berig Taro Spies (25) word vermis nadat hy vermoedelik op Tafelberg gaan bergklim het.

Volgens Brent Jennings, ondervoorsitter van die Bergklimklub van Suid-Afrika, moes die soektog gestaak word totdat weerstoestande verbeter. “’n Soektog rondom Tafelberg met so min sigbaarheid stel mense in gevaar omdat gedeeltes van die terrein baie steil en gevaarlik is en té gevaarlik raak wanneer dit nat is,” het hy gesê.

Spies is ʼn week gelede by sy huis weg en sy motor is die volgende dag deur werkers op Tafelbergweg gevind.

“Ons fokus steeds grootliks op die Duiwelspiek-area en rante en klowe in die omgewing, omdat ons om verskeie redes vermoed dit is hoogs waarskynlik dat hy in daardie area gaan stap het,” het Jennings gesê. Sodra die soektog hervat word, sal ervare bergklimmers gebruik word om toegang tot hierdie area te verkry.

Reddingspanne en honde-eenhede het reeds verskeie gedeeltes van Duiwelspiek, die Gewelberge (Twaalf Apostels), Oranjekloof in Houtbaai en die laer hange van Vredehoek gefynkam.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.