Soektog ná beweerde PTA-kaping lewer niks op nie

Die plek in Centurion waar die beweerde kapings plaasgevind het. Foto: Googlemaps

Die plek in Centurion waar die beweerde kapings plaasgevind het. Foto: Googlemaps

Die polisie ondersoek gerugte van ʼn ouer en twee kinders wat vermis word ná ʼn vermeende kaping Woensdagaand in Centurion.

ʼn Ooggetuie beweer sy het omstreeks 21:00 op die hoek van Rabie- en Endstraat onder die brug van die Ben Schoeman-snelweg gery toe sy glo mense van onder die brug sien uithardloop het na ʼn motor wat by die verkeerslig stilgestaan het. Dit het gelyk of die mense ʼn Citi Golf gekaap het. Die gebied is berug vir talle grypdief-voorvalle.

Die gemeenskapspolisiëringsforum van Lyttelton Sektor 7 het later op hul Facebook-blad gesê hulle het berigte ontvang dat ʼn Groen VW Golf gekaap is. “ʼn Ooggetuie het gesê twee kinders het van die toneel weggehardloop en in die veld langs die pad gaan skuiling soek,” het die GPF Woensdagaand op Facebook gesê. “Die ouers is glo in die voertuig wat gekaap is. Dit is al inligting wat ons in die stadium het.”

Ao. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die polisie is bewus van die beweerde kapingspoging, maar geen fisiese bewyse daarvan is gevind nie, en niemand het ‘n saak by die Lyttelton- of Wierdabrug-polisiestasie aangemeld nie.

“Ek kan bevestig dat die polisie, die polisie se honde-eenheid, veiligheidsmaatskappye en lede van die gemeenskap die gebied Woensdagaand en Donderdagoggend gefynkam het, maar dit het tot dusver niks opgelewer nie,” het hy gesê.

Hy het ʼn beroep op die slagoffers of hul familie gedoen om so gou as moontlik die saak by die polisie aan te meld, sodat dit verder ondersoek kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.