Soektog na Gauteng-pa duur voort

Jaco Labuschagne.

Die soektog na Jaco Labuschagne (37), ʼn pa en elektrisiën van Gauteng, duur voort nadat hy op ʼn Maandagoggend in November spoorloos verdwyn het.

Sers. Lerato Mngomezulu, woordvoerder van die polisie, het Woensdag aan Maroela Media bevestig ʼn saak van ʼn vermiste persoon word steeds ondersoek nadat Labuschagne 16 dae gelede verdwyn het.

“Ai Jaco, kom asseblief huis toe vir jou familie en jou kind se onthalwe. Here, hou hom vas en beskerm hom asseblief,” skryf ʼn familievriend in ʼn Facebook-plasing by inligting oor sy verdwyning wat nog daagliks deur Labuschagne se suster, Selinda du Plessis (34), op sosiale media gedeel word met die hoop dat hy gevind sal word.

Labuschagne het voor sy verdwyning sy eie onderneming bedryf en onder meer nutswerk verrig. Hy woon al die afgelope 18 jaar op Elsburg, suidoos van Germiston, het ʼn 10-jarige seun en is ongetroud. Buiten Du Plessis, het hy nog ʼn suster en twee broers wat na hom op soek is.

“Ons soek net antwoorde want ons weet nie wat aangaan nie. Ons wil net weet of hy veilig is. Hy moet ons net laat weet of hy oukei is al kort hy tyd om sy kop skoon te kry. In hierdie stadium weet ons nie of hy lewe of nie en die onsekerheid is vir almal erg,” het Du Plessis Woensdag aan Maroela Media gesê.

Du Plessis het gesê Labuschagne se verdwyning het veral ʼn groot uitwerking op hul ma, Lenie Haupt (58). “Dit is vir haar baie stresvol. Sy is nie baie gesond nie en die stres gee haar ʼn ekstra knou. Sy sukkel om daarmee saam te leef en slaap nie in die nagte nie.”

Maroela Media het vroeër berig Labuschagne het ʼn boodskap vir sy familie gelaat dat hy sy eie lewe gaan neem voordat hy op 27 November verdwyn het.

Die Vispol-triotaakspan van die Ekurhuleni-Oos-polisiegroepering, onder leiding van kapt. Kasaven, het kort daarna ʼn soektog van stapel gestuur, maar dit het tot dusver nog niks opgelewer nie.

Labuschagne se wit JMC-dubbelkajuitbakkie met die registrasienommer DK20TC GP is die laaste keer in die omgewing van Heidelberg gesien.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, het gesê Labuschagne is omstreeks 10:00 op 27 November die laaste keer gesien. “Sy bakkie is 4×4-aangedrewe en het nie ʼn opsporingstoestel nie. Dit wil voorkom of hy depressief is,” het sy gesê.

Labuschagne het vermoedelik ʼn denim en ʼn vlootblou toeknoophemp aangehad toe hy die laaste keer gesien is.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om hulle in hul soektog by te staan. Mense wat Labuschagne of sy bakkie opspoor, word versoek om die naaste polisiestasie of die Elsburg-speurders by 011 827 2306, 011 827 2306 of 011 824 2730 of die Pink Ladies by 072 214 7439, 083 378 4882 of 072 620 7704 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marianne ·

Ek hoop hy lewe…..
Dalk het hy “me time” nodig.
Mag by spoedig van him laat hoor

Grace Mugabe ·

Jaco, tyd om jou geliefdes voor jou eie ek te plaas. Waar jy ookal is en wat jy ookal doen, jy is volwasse en behoort teen die tyd te verstaan dat jou seuntjie meer werd is as jou “kop skoon kry” episode. ‘n Kind is geskenk van Bo – en verdien nie om onderwerp te word aan ouers se emosionele skommelinge nie. Gaan terug en wees vir hom lief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.