Soektog na gekaapte Maserati duur voort

‘n Maserati Levante-model, soortgelyk aan die een wat gesteel is. Foto: Via Car and Driv

Die soektog duur voort na die luukse Maserati-sportnutsvoertuig wat Saterdag in ʼn skynbare ontvoeringsdrama by ʼn handelaar in Johannesburg gesteel is.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale woordvoerder van die Gauteng-polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê die voertuig is nog nie gevind nie en die soektog na die voertuig en die verdagtes duur voort.

“Die motor is splinternuut en dus sonder permanente nommerplate of ʼn opsporingstoestel. As enigiemand die motor opmerk, moet hulle die polisie by 086 110 111 bel,” het Makhubele versoek.

Maroela Media het vroeër berig twee werknemers van die Maserati-handelaar in William Nicolweg, Bryanston, in die noorde van die stad, is omstreeks 11:00 ontvoer toe een van dié luukse voertuie glo by die handelaar gekaap is.

“Die werknemers was op die perseel en op pad om twee voertuie se brandstof te gaan opvul, toe vyf gewapende mans hulle genader het. Die mans het die werknemers gedwing om agter in ʼn wit Maserati Levante te klim en het met hulle weggejaag, terwyl die ander voertuig op die perseel agtergelaat is,” het Makhubele vroeër gesê.

Die werknemers is sowat ʼn uur later in die veld in Bassonia in die suide van die stad vrygelaat. Die werkers is ongedeerd en kon daarna hul werkgewer bel en hulp ontbied.

Die mans het hul verklarings aan die polisie afgelê toe hulle veilig terug by hul werkplek was.

Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Monia ·

Ek het gister ‘n wit Maserati sonder nommerplate en ‘n permit in die agtervenster in Nelspruit gesien. Dit kan seker toevallig wees, maar ek het wel die nommer probeer skakel, en ek kon nie deurkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.