Soektog na Harvey die boelhond eindig tragies

Harvey (Foto: Facebook)

Harvey, die geliefde bruin Franse boelterriër wat byna twee weke gelede spoorloos van sy eienaars se huis in Northcliff in Johannesburg verdwyn het, is dood gevind.

Dié hartseer nuus is Vrydagmiddag in ’n inskrywing op die Facebook-blad Bring Harvey Home bevestig. Roxy Athens, Harvey se eienaar, het sedert sy verdwyning inligting oor haar soektog na haar geliefde troeteldier op dié blad gedeel.

“Dit is met gebroke harte dat ons bevestig dat Harvey se liggaam vanmiddag gevind is. Daar is ’n menigte vrae en geen antwoorde nie. ’n Pragtige, suiwer, sagte, blink lig het ons verlaat,” lui die inskrywing.

Honderde vrywilligers het die afgelope paar weke na Harvey gesoek nadat Athens hom op 12 Julie na die agterplaas uitgelaat het. Daar was egter geen teken van die vyfjarige hond toe sy ounooi minute later na hom gesoek het nie.

Die erf is heeltemal toegemaak en die enigste manier hoe Harvey moontlik kon ontsnap, was dalk deur die bure se elektriese heining wat in daardie stadium afgeskakel was.

Sommige vrywilligers het sedertdien plakkate opgeplak, pamflette versprei en op hul eie tyd en onkoste van veearts na diereskuiling gery om na die geliefde brakkie te help soek.

“Harvey, ons sal jou nooit vergeet nie. Baie van ons het nooit die kans gehad om jou te ontmoet nie, maar jy het by ons besige lewens en in ons harte ingekruip en ons almal bymekaargebring,” lui die inskrywing nou.

Harvey en sy mens-ma, Roxy Athens.

Athens het vroeër vandeesweek aan Maroela Media gesê dit voel asof iemand haar kind van haar af weggevat het. “Dis die onsekerheid oor waar hy is wat vir my die ergste is. Hy is die mees liefdevolle karaktertjie en so goedgelowig,” het sy gesê.

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe Harvey dood is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juls

Ons hou Maroela Media dop vir ‘n opvolg berig oor hoe Harvey gesterf het

Frannie

Aggenee, dis nou hartseer nuus.

Groen Haas

Ag my liefste hond. So hartseer…

andre

Maroela, regstelling, dis nie n Boelterrier nie, dis n boelhond (Bulldog in engels)

Erita

????????????????????