Soektog na Jhb-man eindig tragies

Chris van der Merwe. Foto: Facebook

Chris van der Merwe. Foto: Facebook

ʼn Familie se soektog na ʼn familielid nadat hy vermis geraak het, het Donderdag tragies geëindig toe sy liggaam in ʼn lykshuis in Hillbrow, Johannesburg, opgespoor is.

Pieter van Staden het Donderdag op Facebook ʼn foto van sy swaer, Chris van der Merwe (36), gedeel waarin hy gesê het dat hy sedert Woensdag soek was. Van Staden woon in Bloemfontein en Van der Merwe het in Johannesburg gewerk.

Van Staden het aan Maroela Media gesê Van der Merwe se werk het die familie Donderdagoggend geskakel om te vra of hulle weet waar hy is, want hy het nie vir werk opgedaag nie. “Dit is glad nie soos hy om net nie vir werk op te daag nie, so ons het dadelik geweet iets moet fout wees,” het Van Staden gesê.

Van der Merwe se werk het later laat weet dat hulle deur ʼn opsporingstoestel in sy werksvoertuig die motor by ʼn skrootwerf opgespoor het. Daar is vasgestel dat die motor Woensdagaand in ʼn ongeluk op die N1-Suid naby die Woodmead-afrit was toe die motor agter in ʼn stilstaande vragmotor vasgery het.

“Ons het al die hospitale en polisiestasies gekontak, maar kon niks meer uitvind nie. Uiteindelik het ons by die Sandton-polisiestasie reggekom wat ons vertel het hulle was op die ongelukstoneel en sover hulle weet was dit ʼn noodlottige ongeluk,” het Van Staden gesê. “Kort daarna het die Hillbrow-lykshuis geskakel om te sê sy liggaam is daar.”

Volgens Van Staden is hy uiters teleurgesteld met die manier waarop die ongeluk deur die owerhede hanteer is. “Hy het ʼn ID by hom gehad en al sy persoonlike goed was by die Sandton-polisiestasie. Hoekom kon hulle ons nie opspoor en ons laat weet nie? Om op hierdie manier uit te vind het dit vir ons net nog moeiliker gemaak,” het hy gesê.

Van der Merwe was ongetroud en het geen kinders gehad nie. Hy word oorleef deur sy ma, suster en swaer. “Ons wag nog vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word voor ons kan begrafnisreëlings tref, want ons weet nie wanneer ons sy liggaam sal kan kry nie,” het Van Staden gesê.

“Dit is nie hoe ons wou hê die soektog moes eindig nie. Ons het bly hoop ons sal hom kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Lee ·

Shame dis verskriklik! Sterkte aan die familie in die moeilike tyd! Is die SAPS nou al so lui om nie eers mense se geliefdes op te spoor nie!!! Useless SAPS!

Tascha ·

Ai dis baie erg om so te moet verneem dat jou geliefde omgekom het in ‘n noodlottige ongeluk! My skoonma se buurvrou het haar man vir meer as 2 maande gesoek nadat hy op die 24ste Mei spoorloos verdwyn het. ‘n Week gelede kom ‘n speurder daar aangesit en laat weet haar dat haar man in Carletonville se lykshuis lê – al sy besonderhede is by hom maar sy was met verlof en niemand anders het die moeite gedoen om haar in kennis te stel nie. Die SAPD is ‘n grap!

Anoniem ·

Innige simpatie aan familie. Wat beteken die owerheid as hulle nie die werk kan doen waarvoor hulle betaal word nie. Ek sak my kop in skaamte as ek die Sandton polisie stasie is.

Anton Smith ·

Ai, ai, ai! Ek was so verslae toe ek hoor van Chris se skielike en onnodige heengaan, Hy was `n baie goeie vriend vir jare. Ons het die laaste tyd wat hy in Johannesburg gewerk het nie so baie kontak gehou nie, maar het altyd lekker gekuier wanneer ons mekaar weer te sien kry. Sy heengaan is `n vreeslike verlies. Ek hoop regtig dat die impak gesorg het dat hy dadelik by die Vader was.
Ek het jare gelede die voorreg gehad om vir Chris na die Here te lei en te doop. Ek troos my daarin dat ons mekaar weer sal sien!
Liefde en baie troos vir die familie. Bid en dink so baie aan julle.
Anton

Anita ·

Anton, wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om iemand na die Here te lei! Mag die familie troos vind met hierdie wete.

So jammer vir hulle verlies en die manier waarop die saak hanteer is.

Danel Casey ·

Amen!!! dankie DAT jy hom na Jesus gelei het!! Nou weet ons hy is in die Lewe in.die Ewige Lewe.mag dit so n troos vir sy mamma wees.haar seun Lewe!!!

Danel Casey ·

Amen!!! dankie DAT jy hom na Jesus gelei het!! Nou weet ons hy is in die Lewe in.die Ewige Lewe.mag dit so n troos vir sy mamma wees.haar seun Lewe!!!

Winston ·

Dit is tragies ja. Sterkte aan familie. SAPS behoort julle om verskoning te vra. Dis regtig laks en traak my nie agtige optrede. Om op so n manier uit te vind.

Debs ·

Dit is skokkend, skrikwekkend hoe sleg pateties en uiters onsensetief hoe die SAP te werk gaan….. hulle voel net vere vir alles en almal om hulle. Iewers moet daar iets aan gedoen word. My simpatie aan die familie en vriende.

Theresa ·

Innige meegevoel aan die familie.
Dalk moet jul ‘n vriend/prokureur die SAPD laat ondervra – nie net op vloervlak nie, waarom jul nie gekontak was nie. Dit mag nie so werk nie. ‘n Verskoning gaan hom nie terugbring nie, maar mag dalk keer dat mense so hanteer word. Dis ‘n skande en klad op die beamptes betrokke se naam. Hul moet ‘n dissiplinêre verhoor hiervoor kry – eintlik nie ‘n geregsdienaar se naam werk nie.

Poppie ·

Dit is hartseer om iemand aan die dood af te staan, maar ek persoonlik verkies eerder dat ek my geliefde dood opspoor as glad nie opspoor en die res van my lewe te “worry” waar hy/sy is nie. Sterkte aan die familie. Dit is hoekom ek in my beursie ook nommers het vir in noodgevalle. As iemand my beursie oopmaak, is my man en kinders se name en nommers baie duidelik.

SNEL ·

Sjoe, skokkend om op so manier van n geliefde se dood te moet uitvind. Dis amper soos n dubbele slag.

ELSA ·

JA BAIE TREURIG VAN SAP…..MAAR LIEWERS DIT AS WAT JUL BLY SOEK EN WONDER WAAR HY IS,STERKTE VIR ALMAL.

Marthie Bredenkamp ·

Ja nee ek wag nou nog vir die polisie om my te kom vertel my seun het gesterf. Iemand het met ons kom simpatiseer met die afstewe van my seun. Die voertuig was in my naam so hulle kon my opspoor en daar was ook n adres van ons indie voertuig. Dit was vir ons n groot skok.Nou ja lyk my dit is hoe dit gaan sterke aan die familie

Pieter V ·

Marthie die meeste van hulle gee nie om , hulle word nie betaal om te dink ,daar is wel nog wat omgee maar hulle is skaars.

Sarie ·

Dit is omdat hulle nie omgee oor hulle eie familie nie, dit is hkm hulle nie eers iemand verwittig het nie. Maroela, ek weet julle delete my kommentaar. Julle kan nuus op die blad sit wat ons ontstel, maar ons mag nie ons se se nie, julle blok ons. Ek wil my se se ek het ook ‘n reg / of vat julle dit ook weg van ons af.

neelsie ·

Baie jammer vir julle.Sterkte aan die gesin.
Onthou daar is nie n wagtyd om vermiste persone aan te meld nie.

Christell Nel ·

Het omtrrent 6 jaar terug vriende gehad wat dieselfde ding oorgekom het. Hulle seun het vermis geraak, die arme mense was van hulle kop af van bekomernis. Hulle het dae lank gesoek, net om te verneem hul kind le in die lykshuis na ‘n ongeluk . Sy ID en bestuurderslisensie was ook saam met hom. Ek krimp ineen as ek dink wat hierdie mense nie alles deur gegaan het nie!! Dis verdomp SKOKKEND om die minste te se. Sterkte aan die naasbestaandes van hierdie seun.

MONIQUE ·

my ouers is albei in 2012 op die R25 Kempton park pad oorlede in n kar ongeluk. hulle ongeluk was vroeg Saterdag, en as ons nie sondag aand onraad begin vermoed het nie, sou ons seker nou nog gewonder het, die polisie het nie eers probeer om ons op te spoor nie. kastig omdat hulle nie dokumente aan hulle gehad het nie. my pa we werks kaart en sy lisensie was in die kar.
SAP is deesdae soos SARS en BINELANDSE SAKE. Uiters treurig!

Deon van Rhyn ·

Ek se weer SANRAL moet die blaam vat . Hoekom het hulle nie met hulle nood voertuie/ Kegels en ligte die geblokeerde bane afgesper nie. Die ongeluk het op ons WONDERLIKE PAY E_TOLL pad plaasgevind. SANRAL julle het geslaap, julle kamtige CCTV moniteering beteken niks !

Rina ·

Ek is so jammer dat jul op die manier moes uitvind dat jul geliefde omgekom het. Maar met ons wonderlike metro’s en polisie is ek nie verbaas nie. ek wil net my innige meegevoel met die familie en vriende gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.