Soektog ná kanovaarder in rivier verdwyn

Giel van Deventer (Foto: Giel van Deventer, Facebook)

’n Soektog is Sondagoggend hervat ná kanovaarder Giel van Deventer (72) die vorige middag in die Breërivier naby Swellendam, Wes-Kaap, verdwyn het.

Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het Van Deventer net voor 15:00 in die rivier verdwyn.

“Voorlopige inligting dui daarop dat Van Deventer en ander kanovaarders aan ’n naweekwedvaart deelgeneem het. Van Deventer en een van sy medevaarders was in stormagtige water vasgevang en hul kano’s het omgeslaan,” bevestig Spies.

“Een van die vaarders het daarin geslaag om na die rivierbank te swem. Van Deventer het in die water verdwyn.”

Polisieduikers is na die toneel ontbied en het onmiddellik ’n soektog na Van Deventer van stapel gestuur.

“Die soektog is later afgelas weens die swak ligtoestande.”

Van Deventer is ’n kranige roeier en het in Augustus verlede jaar sy 50ste Bergrivier-roeimarathon voltooi. Hy het in 1967 aan sy eerste Bergrivier-marathon deelgeneem.

Die Bergrivier-marathon is bekend as een van die taaiste roei-uitdagings in Suid-Afrika, met die strawwe Wes-Kaapse winterweer en die blote afstand van die wedren wat bykomende uitdagings bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

So bitter jammer. Innige simpatie aan naasbestaandes. Hoop sy liggaam word gou gevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.