Soektog na Kruger-vier duur voort

Argieffoto: popista.com

Die soektog duur voort na vier jong leeumannetjies wat uit die Krugerwildtuin in Mpumalanga ontsnap het.

Dr. Markus Hofmeyr, SANParke se hoofveearts, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê beamptes van SANParke en die Mpumalanga-park-en-toerisme-agentskap (MPTA) het sedert Maandag alle pogings aangewend om die roofdiere op te spoor en selfs deur die nag gewerk om die leeus te lok en te vang.

“Met eerste lig is alle poging hervat om die leeus, of enige tekens van hulle, op te spoor. As hulle opgespoor word, sal ʼn gesamentlike poging aangewend word om hulle weer te vang,” het Hofmeyr gesê.

Volgens Hofmeyr is die leeus vermoedelik tans in ʼn onbewoonde, digbeboste en rotsagtige berggebied suid van die Krokodil-ravyn.

“Die MPTA het baie ervare personeel wat die situasie hanteer en saam met SANParke word alle pogings aangewend om die leeus op te spoor en te vang.”

Hy het gesê daar is spanne in die lug en op die grond wat na die leeus soek.

Hofmeyr het gesê dit is belangrik om kennis te neem dat die leeubevolking eksponensieel gegroei het en ʼn kenmerkende faktor is vir leeumannetjies om vir nuwe gebiede in die park te soek.

Hy het gesê dit is hoogs onwaarskynlik dat die vier leeus wat Sondag ontsnap het, dieselfde is as dié wat twee maande gelede in die Komatipoort-omgewing uitgekom het.

Maroela Media het vroeër berig die leeus het vermoedelik Sondagaand uit die wildtuin ontsnap en is by Matsulu, ʼn nedersetting buite die park, gesien. Die nedersetting is sowat 40 km oos van Nelspruit.

Dit volg skaars twee maande nadat vyf jong leeumannetjies by die Komatipoort-omgewing uit die wildtuin ontsnap het, nadat hulle vermoedelik deur ander dominante mannetjies uit die reservaat verdryf is. Vier van dié leeus is kort daarna gevang en veilig teruggeneem na die wildtuin, een het egter alle spoorsnyers ontduik en is vermoedelik self terug in die reservaat in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Dalk is die beendere al geblik en op pad na die buiteland. Julle sal nie nie eens die vel kry nie.

Cherokee ·

Ontsnap? Is dit die regte woord? Sover my kennis strek is daar nie meer heinings om vanuit te ontsnap nie. Dit is eerder ‘n geval van nuwe omgewings verken en ander jagvelde gaan soek.

Leendert ·

Ons hoor op vanaand se nuus, dat daar ook olifante van die wildtuin af deur kom, daar is mos ‘n rivier wat die grens tussen die wildtuin en die woongebied is, vir baie kilometes van die noorde af kom, later by die Krokodilrivier aansluit, gaan kyk gerus op Google Maps.

So daar lyk my is nie omheinings nie, of dit word nie instand gehou nie. Wat ek wel van bewus is, is dat van die groot enkellopende olifantbulle kom gereeld in daardie hoek voor, dit is nou van daardie moeilikes met die groot tande. Dan vra ek, Sanparke, stel julle so belang daarin om konferensiegeriewe en hotelle in die Wildtuin te bou dat julle van bewaring van die gebied, die diere ook, die beveiliging van die mense buite die Wildtuin vergeet, of stel julle net nie belang nie, omdat dit vir julle geld sal kos.

Boor ek nou ‘n senuwee raak of nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.