Soektog na munisipale werkers eindig tragies

’n Helikopter van Reaction Unit South Africa (Rusa) soek na die vermiste munisipale werknemers. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

Die twee munisipale werkers wat tydens verlede naweek se vloede in KwaZulu-Natal vermis geraak het, se liggame is gevind.

Die eThekwini- plaaslike munisipaliteit het dié hartseer nuus Vrydag bevestig.

Solomon Shandu en Simphiwe Norman Cele was verlede Saterdag glo op pad na eNtaphuka in die Ndwedwe-omgewing toe die Toyota Etios waarin hulle gery het deur vloedwater by ʼn rivier in Ogunjini meegesleur is.

Hul liggame is eindelik vroeër vandag in die Umdlotirivier gevind – ʼn aansienlike afstand van waar die leë Toyota Etios Maandag gevind is.

Shandu was verlede Saterdag van ʼn begrafnis in Harrismith in die Vrystaat op pad huis toe, toe sy voertuig vermoedelik op ʼn brug tydens ʼn storm deur vloedwater meegesleur is. Daar is eers later bevestig dat Cele ook in die voertuig was en dat hy Shandu na en van die begrafnis vervoer het.

Albei het ten tyde van hul dood vir die munisipaliteit se waterdepartement in Ottawa, Verulam, gewerk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.