
Die meisietjie se liggaam is in ‘n suikerrietplantasie naby Glendale gevind. (Foto: IPSS Medical Rescue)
Die liggaam van ʼn sesjarige meisie wat Sondagaand in die omgewing van Umhlali in KwaZulu-Natal ontvoer is, is in ʼn suikerrietplantasie gevind.
Die kind se ma het aan die polisie gesê ʼn onbekende man het haar motordeur oopgeruk toe sy naby Shayamoya by ʼn spoedhobbel spoed verminder het. Hy het die meisietjie, wat op die agterste sitplek gelê en slaap het, uit die voertuig gegryp.
Die ma en haar ander kind (14) het van die toneel gevlug en ʼn grootskaalse soektog is na die sesjarige kind geloods, het brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, gesê.
Die polisie het Maandag ʼn 42-jarige vrou vir ondervraging ingeneem én die hulp van die Umhlali-soek-en-reddingseenheid ingeroep om na die meisietjie te help soek.
Ná ʼn uitgebreide soektog is die kind se liggaam gister in ʼn suikerrietplantasie digby Rietvallei gekry.
Die vrou wat aanvanklik ondervra is, word nou van moord aangekla, het Naicker gesê.
Reddingspanne van IPSS Medical Rescue het ook in die soektog na die kind gehelp. Paul Herbst, woordvoerder van dié nooddiens, het ook die boeregemeenskap en inwoners van Glendale bedank wat met die soektog gehelp het.
Lt.genl. Khombinkosi Jula, KwaZulu-Natalse polisiehoof, het die polisie vir hul toewyding geloof. “Ons hanteer alle misdade teen vroue en kinders as ʼn prioriteit en was uiters bekommerd toe die bewerings van ontvoering gemaak is. Ons is teleurgesteld dat ons nie die vermiste kind lewend kon vind nie, maar ons sal alles moontlik doen om te verseker die oortreder kry sy of haar dag in die hof,” het Jula gesê.
Die motief vir die ontvoering is nog onduidelik.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
hoe kan mens nog in 2020, in die mees misdadige land te wereld, rondry met motordeure wat nie gesluit is nie???
Iets klink nie reg hier kom ons kyk die waarheid sal uitkom.
Dit was beslis nie ontvoering nie. Geen ma sal weghardloop as ‘n vreemde haar kind gryp nie.