Soektog na Panga kom tot ʼn hartseer einde

Panga en Unja (Foto: Verskaf)

Panga, die rottweiler wat vroeg in Februarie spoorloos verdwyn het op ʼn plaas in die Sutherland-distrik, is dood in ʼn diep gat aangetref.

Ligte vliegtuie en hommeltuie is selfs tydens die soektog na die tweejarige reun ingespan, maar sonder sukses.

Panga is die afgelope week gevind nadat lede van die Facebook-groep Rottweiler South Africa die dienste van die private ondersoeker Mike Bolhuis bekom het.

Bolhuis het een van sy ondersoekers na die plaas tussen Sutherland en Matjiesfontein gestuur en Panga is binne ʼn dag gevind, sowat 300 m van die plaashuis in ʼn erdvarkgat.

Volgens Ada Cloete, Panga se eienaar, is daar op luiperdspore afgekom en was daar ʼn bloedstreep by die gat, wat gedeeltelik onder ʼn bos versteek is.

Daar word vermoed dat Panga deur ʼn luiperd bygekom is en dat die luiperd hom in die gat ingesleep het of dat hy gewond was en daar gaan skuil het.

Ada Cloete by Panga en Unja. (Foto: Verskaf)

Panga en sy sussie Unja, ook ’n rottweiler, is die betrokke dag in Februarie in die vroeë oggendure uit die huis gelaat om ’n draai te gaan loop. Hulle het uitgehardloop en skielik oor die heining gespring.

Daar was ʼn koedoetrop naby en Cloete vermoed dat die luiperd agter hulle aan was en dat Panga toe tussenbeide gekom het. Unja het later sonder Panga verskrik by die huis aangekom.

Teen sonsopkoms het Cloete-hulle met ʼn groot soektog na Panga begin en is groot gedeeltes van die plaas met perde en vierwielmotorfietse gefynkam.

Cloete het intussen ook dié week ʼn nuwe rottweilerreuntjie gekry wat sy Mapogo genoem het. “Hy is van dieselfde bloedlyn as Panga en hy lyk nes hy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wilhelmina ·

Ek wil net kommentaar lewer op die Panga sage. As jy nog nooit ‘n Rottweiler in jou lewe gehad het nie sal jy dalk nie verstaan hoekom Ada soveel moeite gedoen het met Panga nie. Hulle is ons Rottweiler familie se kinders en daarom doen ons wat nodig is om hulle veiligheid en welstand na te streef omdat hulle dit vir ons doen. So jammer dat dinge so uitgedraai het, maar hy sal vir altyd in Ada se hart woon. Sterkte Ada en alle vreugde met jou nuwe seuntjie Mapogo.

boetieboude ·

Ek stem 100% met jou saam. Ons het self 2 Rotties en hulle is ons harte se punte. Hulle is die kwaaiste honde, maar ook die mees vredeliewendste. So jammer oor Panga, maar bly hulle weet nou wat met hom gebeur het en kan berusting kry.

Alet ·

Ek het nog nooit ‘n rottweiler gehad nie maar wel english bulldogs. En ek sal dieselfde doen vir my honde. Daar is baie honde eienaars daar buite wat dit sal doen.

Skim ·

Dit is baie hartseer nuus. Ek is so jammer vir jou verlies Ada. Mag jou nuwe klein Rottweilertjie jou baie vreugde gee.

SomeOne ·

nou die groot vraag; vroeg in februarie weg, ons is nou amper aan die einde van april, daar is ‘n bloedstreep gekry, ‘n bloedstreep na ongeveer 3 maande en dit op ‘n plaas, baie moeilk om te glo

Thereza ·

ek voel ook so 200 meter vd huis. iets is ni reg ni, en dit nadat Bosman spoorsnyers, drones etc so lnk gesoek het.
en dan word hy gevind, as hy daai nag dood is bloed spore nou nog sigbaar 200 m vd huis??? twee en twee maak ni ni v my4 nie.

RS ·

Die verlies van n geliefde dier is nooit maklik nie. Baie sterkte. Ek het self n jong rottie en is soooo lief vir haar.

Karina ·

Iemand het een keer die kommetaar gelewer of Bolhuis al ooit ‘n saak opgelos het. Ja, baie, die keer ook. Sy span het opspoor vernuf wat onverbete is. As hulle aan ‘n saak byt, los hulle nie voor opgelos is nie. My vriend het net Rotweilers, hulle is die dierbaarste honde, vol liefde. Maar wees gewaarsku, as Eugene nie by die huis is nie, bly liewers weg. Dan is hulle kwaai. Jammer vir Ada dat sy haar mooi hond verloor het, maar nou sal die nuwe enetjie weer vreugde in haar hart bring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.