Soektog na ‘rondloperleeu’ afgelas

Die foto van die leeus wat kamstig tussen Lydenburg en Sabie opgemerk is, word wyd op sosiale media versprei. Owerhede het dit as fopnuus bestempel. Foto: Twitter

Die soektog na die “rondloperleeu” wat na bewering tussen Lydenburg en Sabie in Mpumalanga gewaar is, is Woensdag afgelas nadat daar geen teken van die dier gevind kon word nie.

Kholofelo Nkambule, woordvoerder van die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA), het aan Maroela Media gesê ʼn span wat na die gebied waar die leeu glo gesien is ontplooi is om ondersoek in te stel, het Woensdagmiddag leë hande teruggekeer.

“Daar was geen teken van ʼn leeu in hierdie gebied nie. Geen spore nie, niks. Die span kon geen aanduiding vind dat daar ʼn leeu in daardie gebied beweeg het nie,” het Nkambule gesê. “Die soektog is dus afgelas totdat nuwe inligting aan die lig kom. Indien iemand dalk weer die leeu opmerk, sal ons weer ondersoek instel. Maar tot dan word daar nie verder gesoek nie.”

Nkambule het gesê hulle het ook geen inligting van die Krugerwildtuin of enige ander reservate ontvang dat ʼn leeu vermis word of dat daar tekens is dat ʼn leeu dalk ontsnap het nie.

Die foto wat deur die SAPD op Twitter gedeel is met inligting dat die leeu in die Noord-Kaap opgemerk is.

Maroela Media het vroeër berig foto’s van ʼn leeumannetjie in die hoofligte van ʼn voertuig langs ʼn teerpad het opslae veroorsaak nadat dit Dinsdag wyd op sosiale media versprei is. Volgens sommige inligting is die leeu Dinsdag op die R37 tussen Lydenburg en Sabie in Mpumalanga opgemerk en is dit glo daar waar die foto geneem is.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Woensdagoggend egter die presiese selfde foto op hul amptelike Twitter-profiel gedeel met inligting dat die rondloperleeu op ʼn pad tussen De Aar en Hanover in die Noord-Kaap opgemerk is. Inwoners in daardie gebied is gewaarsku om versigtig te wees.

Brig. Mohale Ramatseba, provinsiale woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, het aan Maroela Media bevestig dat dit intussen onder die polisie se aandag gekom het dat dieselfde foto versprei word met inligting dat die leeu in Mpumalanga opgemerk is.

“In dié stadium weet ons nie of die inligting [oor ʼn rondloperleeu in die Noord-Kaap] waar is nie. Dit is ons werk om die publiek te waarsku en daarom het ons die inligting op sosiale media gedeel. Maar nou hoor ons dieselfde foto word in Mpumalanga versprei, so ons probeer nog vasstel waar die foto regtig geneem is en wat die korrekte inligting is,” het hy gesê.

Verskeie owerhede het vroeër aan Maroela Media bevestig inligting wat versprei word dat die “rondloperleeu” gevang en verdoof is, is nie waar nie.

ʼn Foto van ʼn leeu wat op die teerpad lê met inligting dat die owerhede hom verdoof en terug na die wildtuin geneem het, is ook wyd op sosiale media versprei. Dié foto het egter sy oorsprong uit China toe ʼn sirkusleeu in 2015 in die Anhui-provinsie ontsnap het en die dier deur polisiebeamptes doodgeskiet is.

William Mabasa, algemene kommunikasiebestuurder van die Krugerwildtuin, het vroeër aan Maroela Media bevestig dat daar nié ʼn leeu uit die wildtuin ontsnap het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

D P J ·

Hi, mnr jy wat die foto geneem het en op sosiale media geplaas jy is werklik ‘n luis!!
Jy jaag die gemeentskap op hol en vermos tale onnodige werksure waar werker ander belangrik werk kon doen!!!
Onthou wat jy saai sal jy ook maai.
Saai in die wind dan sal jy ook sind oes!!!

Houtoog ·

Kyk ek met my houtoog na die foto dan skyn dit nie of daardie soort veiligheids-/kantreling in SA gebruik word. Ek stem saam dat iemand wat niks te doene het sy krombrein hier gebruik.

Houtoog No. 2 ·

@Houtoog ….. as ek so met mý houtoog kyk, lyk ons paaie en strepe wat op die paaie geverf is, ook nie so nie. Daar’s dan geen “potholes” en skewe/vervaagde strepe nie!

Kleindup ·

Kan die polisie nie die persone vervolg wat hierdie vals boodskappe versprei en paniek veroorsaak tronk straf oplê nie?

Sensitised ·

SAP: “…sensitised to be cautious.”
Hahahaha! Wat beteken dit? Hehehehe!

kas ·

Ag tog sosiale verbruikers,almal kan sie dit was ‘n wolhaarstorie.Vergeet nou daarvan en beweeg aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.