Die polisie in Noordwes het ʼn soektog van stapel gestuur nadat ʼn groep swaar gewapende mans ʼn kitsbank by Impala-hostel in Freedom Park naby Phokeng opgeblaas het.
“Die voorval het Saterdag plaasgevind terwyl die gebied ʼn kragonderbreking beleef het,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, gesê. “Volgens inligting het die mans uit ʼn motor geklim en lukraak skote in die lug gevuur. Hulle het daarna die kitsbank met springstof opgeblaas en met ʼn onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.”
Mokgwabone het gesê die polisie doen ʼn beroep op inwoners met enige inligting in verband met die rowers om hulle te kontak by 014 566 1831/79.