Soektog na SA-jagter afgelas

Scott van Zyl. Foto: Facebook

Die soektog na Scott van Zyl (44), die professionele jagter van Limpopo wat op Vrydag 7 April in Zimbabwe verdwyn het, is afgelas.

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die Heritage Protection Group (HPG) wat met die soektog gehelp het, het Sondag aan Maroela Media gesê alhoewel die soektog afgelas is, is daar spanne wat steeds alle leidrade sal opvolg soos dit deurkom.

“Die ondersteuning wat ons van owerhede in Zimbabwe asook omliggende boere in die omgewing gekry het, was baie goed. Die soektog is amptelik Saterdag afgelas,” het hy gesê.

Verskeie organisasies soos HPG, die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging, die weermag, en die polisie in Limpopo sowel as in Zimbabwe was by die volskaalse soektog betrokke.

Maroela Media het vroeër berig Van Zyl (44), eienaar van SS Pro Safaris, het buitelandse jagters na Zimbabwe geneem waar hulle vanuit die Chikwaraka-kamp sou jag. Hy het voorverlede Vrydag tydens die jagtog vermis geraak nadat een van sy honde glo weggeraak en hy hom gaan soek het. Die honde het laatmiddag alleen teruggekeer na die kamp, maar daar was geen teken van Van Zyl nie.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en sommige van Van Zyl se persoonlike items, waaronder sy sak en navigasiestelsel, is later op die Limpopo-grens gevind.

Die soek-en-reddingspanne het alles moontlik gedoen om Van Zyl op te spoor en die stukke van die legkaart in mekaar te laat pas.

Louwens het verlede Donderdag aan Maroela Media gesê twee krokodille is in die omgewing waar Van Zyl verdwyn het opgespoor en doodgeskiet.

“Daar is moontlik menslike oorskot in die krokodille gekry. Monsters van die oorskot word in Zimbabwe en Suid-Afrika ontleed om die oorsprong deur DNS-toetse te bepaal.”

Louwrens het beklemtoon daar is nog geen aanduiding dat die oorskot wat gevind is met Van Zyl verbind kan word nie. Hy het gesê dit kan tot ʼn maand neem om die uitslae van die DNS-toetse terug te kry.

Intussen is ʼn groot beloning van 5 000 Amerikaanse dollar ook uitgeloof vir enigiemand wat inligting het wat kan help om Van Zyl op te spoor of te bepaal waar hy is. “Pamflette met inligting van die beloning is wyd tussen die landelike inwoners versprei en enige leidrade wat deurgegee word, sal nog nagegaan word,” het Louwrens afgesluit.

Lees die vorige berigte oor Scott van Zyl op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.