Soektog na seuns in Heroldsbaai voortgesit

Argieffoto

Argieffoto

Polisieduikers het Donderdagoggend die soektog na die twee tienerseuns wat Dinsdag in die see by Heroldsbaai vermis geraak het, voortgesit.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die polisie se Suid-Kaapse duikeenheid het voortgegaan om die kuslyn te patrolleer op soek na enige teken van die twee 14-jarige seuns. Vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is ook by die soektog betrokke.

Maroela Media het vroeër berig dat die seuns vermis geraak het nadat hulle saam met ʼn 29-jarige familielid op die rotse visgevang en ʼn golf hulle van die rotse afgeslaan het. Die man kon daarin slaag om na veiligheid te swem en het hulp ontbied.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit is moeilik om te voorspel hoe lank só soektog kan voortgaan.

“Indien die seuns glad nie opgespoor word nie, sal die saak uiteindelik voor ʼn regter kom wat sal besluit of daar nog rede is vir die ondersoek om voort te gaan en of die saak gesluit moet word. Maar wanneer dit sal gebeur en hoe lank daar aktief na die seuns gesoek sal word, is nie moontlik om te voorspel nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.