Soektog na sussies eindig tragies

Kamogelo en Tshegofatso Raphasha word sedert Maandag vermis. (Foto: Verskaf)

Die soektog na twee minderjarige sussies het Dinsdag hartseer geëindig toe hul liggame in ʼn veld digby die Ga-Mashalane-nedersetting buite Polokwane in Limpopo gevind is.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het ʼn verbyganger omstreeks 18:00 op die liggame van klein Tshegofatso Raphasha (5) en Kamogelo Raphasha (7) afgekom. Hul liggame is langs mekaar gevind en was reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding.

Tshegofatso en Kamogelo is op 23 Augustus as vermis aangemeld nadat hulle die vorige dag vir die laaste keer in die Marobjane-nedersetting in die Senwabarwana-polisiëringsgebied gesien is.

Die sussies is in die geselskap van ʼn familielid – ʼn 26-jarige vrou wat glo verstandelik gestremd is – by die huis weg.

Plaaslike polisie en gemeenskapslede het sedertdien onverpoos na die sussies gesoek.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen om die omstandighede rakende die voorval te ondersoek. ʼn Nadoodse ondersoek sal ook gedoen word om die oorsaak van die sussies se dood te bepaal.

“Die polisie moet nou ondersoek instel om te bepaal of iemand verantwoordelik gehou kan word vir die dood van hierdie sussies,” het lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Louise ·

Regtig, nou waar is die gestremde familie lid wat saam met hulle was.

Swerwer ·

In die lewe, hoe kan jy jou minderjarige kinders in die sorg van ‘n verstandelike gestremde persoon laat.
Wie was veronderstel om na die Verstandelik gestremde te kyk? As ma van ‘n 36 jarige verstandelike kind kan ek dit tot nou toe nie begryp hoe mense nie kan besef verstandelike gestremdes het nie en kan nie verantwoordelikhede aanvaar nie.

Maritza ·

Waar is die ouers? Baie hartseer dat sulke dinge gebeur maar as jy onbevoegd is om na kinders te kyk moet jy hulle nie he nie

ES ·

Ongelukkig, in ons wetgewing, het verstandelik gestremdes nie kriminele kapasiteit nie… dis baie baie tragies.

Swerwer ·

ES – ek is self ‘n ouer van ‘n verstadelik gestremde (36 jr) Ongelukkig kan verstandelik gestremdes nie verantwoordelik gehou word vir hul dade nie, dit is ‘n chemiese wanbelans in die brein. Ek het my kind vir 36 jaar in ‘n kokon toegedraai dat hy nie iemand moet leed aandoen nie. Ons waardes/kulture in die lewe verskil en die mede landsburgers besef nie of wil nie besef watter groot verantwoordelikheid dit is om so ‘n kind/persoon op te voed en te beskerm teen die gevare en blatante ongeskiktheid van die publiek nie.

Lola88 ·

“Die polisie moet nou ondersoek instel om te bepaal of iemand verantwoordelik gehou kan word vir die dood van hierdie sussies,” – Wag….verstaan ek reg? Hoe dan anders…dis nie asof hulle net aan natuurlike oorsake oorlede is nie? Natuurlik moet iemand verantwoordelik gehou word???????

Skappie ·

Hoe kan mens jou kinders by iemand los wat verstandiglik gestrem is. Sulke mense het iemand wat na hulle moet omsien, nodig. Waar was die ouers dan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.