Soektog na Sylvester hervat

Die helikopter wat Sylvester verlede jaar teruggeneem het na die park.

Die helikopter wat Sylvester verlede jaar teruggeneem het na die park.

ʼn Helikopter gaan Donderdag weer ingespan word om te help soek na Sylvester, die rondloperleeu wat Maandag vir die tweede keer uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het.

Wanda Mkutshulwa, SANParke se uitvoerende hoof van korporatiewe dienste, het gesê die sein van die leeu vanaf ʼn satelliethalsband dui aan dat hy sowat 20 km wes is van die reservaat se  noordwestelike grens. Dit is naby die gebied in die Nuweveldberge waar hy verlede jaar weer gevang is. “Die terrein is relatief hoog op teen ʼn krans,” het Mkutshulwa verduidelik.

Een van vyf opsies wag op Sylvester as hy weer gevang word:

* Hy kan teruggeneem word na die Karoo Nasionale Park, met die heinings wat versterk word.
* Hy kan hervestig word in ’n ander nasionale park.
* Hy kan geskenk word aan ’n ander staatsbeheerde bewaringsgroep.
* Hy kan geskenk word aan ’n private bewaringsgroep.
* Hy kan van kant gemaak word indien hy ʼn gevaar vir mense inhou of te veel vee vir prooi doodmaak.

Maroela Media het vroeër berig nuus dat Sylvester moontlik van kant gemaak gaan word, het hewige reaksie op sosiale media ontlok.

Talle mense het met #SaveSylvester op Twitter hul misnoeë oor die besluit uitgespreek en dié hutssleutel was Woensdagoggend een van die gewildste onderwerpe.

Verskeie reservate en wildplase het aangebied om vir Sylvester ʼn nuwe heenkome te bied.

ʼn Span van 14 mense, onder wie ʼn veearts, is op sy spoor. SANParke het ná sy vorige ontsnapping vir hom ʼn satelliethalsband aangesit, wat die span gebruik om na hom te soek.

Sylvester, die naam wat omliggende boere vir hom gegee het ná sy eerste ontsnapping op 5 Junie verlede jaar, het Maandag vermoedelik weer op dieselfde manier ontsnap.

Swaar reënval het veroorsaak dat grond onder die heining weggespoel het en hy het weer deur ʼn gat onder die heining gekruip. Hy het teen Dinsdag reeds ʼn koei op ʼn plaas gevang.

Sylvester, toe drie jaar oud, se vorige soektog en versekeringseise van al die prooi wat hy tydens sy 25 dae op vrye voet verorber het, het SANParke R800 000 uit die sak gejaag. Hy het toe sowat 26 skape, ʼn koei en ʼn koedoe doodgemaak.

Hy is uiteindelik 29 Junie omstreeks 17:00 in die Nuweveldberge, noordwes van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, aangekeer. Hy is toe vermoedelik deur ander dominante leeumannetjies verjaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gustav ·

as hy so baie diere vang, dan sal daar maar min wild in die wildtuine oorbly met al die ander duisende leeus daar in

Wat-ek-lees ·

Heel moontlik het hy by Afrika se wildstropers geleer om selektief te wees in wat hy vreet.

Naomi ·

He is such a Beauty. God bless this animal, he is an loner and a lessen to be learned for all caged animals. Please do not hurt or harm this beautifull animal.

Mike de Beer ·

Ai tog “‘n koei” is die vroulike vorm van ‘n bees. Dit is meer korrek om te verwys daarna dat Sylvester “‘n bees” gevang het. Tensy die verslaggewer baie seker is van die geslag van die bees?

FM ·

As ek daai leeu op my plaas gewaar, gaan ek hom vankant maak. Kyk net hoeveel skade het hy al veroorsaak. Die diere wat hy dood gemaak het, is baie meer werd as die hyself. Waar daardie leeu vandaan kom, is nog baie. !!!!!! Vergeet tog van die moaners. Kyk net wat kos die leeu al vir die mense!!!!!

Johann ·

Kry vir die outjie ‘n vroutjie, dan bly hy in sy koutjie en dis die grapjas se foutjie! Môre loop almal weer ‘n bloutjie! “Ai tog” sê die outjie vir sy vroutjie! Daar breek hul weer my toutjie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.