Soektog na tiener by Melkbosstrand duur voort

(Argieffoto: NSRI)

Die Stad Kaapstad sê die verdwyning van ʼn tiener in die see by Melkbosstrand het ʼn donker wolk geplaas oor ʼn andersins rustige langnaweek op die stad se strande.

Polisieduikers het vanoggend (Maandag) die soektog na die tiener voortgesit nadat hy Sondag in die see verdwyn het. Die seun het saam met vier familielede by Van Riebeeckstrand in Melkbosstrand gaan swem.

Pogings om hom op te spoor was tot dusver onsuksesvol.

“Ons gedagtes is by die familie in hierdie moeilike tyd en ons hoop die opsporingspogings kan aan hulle ʼn mate van berusting gee,” het Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, gesê.

“Die stad se kuslyn lok jaarliks duisende besoekers en verdrinkings kom ongelukkig steeds voor. In vergelyking met dit waaraan ons gewoond is, was die feestyd tot dusver betreklik stil. Ons amptenare is egter steeds gereed om die publiek op enige moontlike manier te help.”

Volgens Badroodien het lewensredders ook ʼn 37-jarige man uit ʼn getypoel in Kampsbaai gered nadat hy in die water geval het. Daar is glo aanduidings dat drank betrokke was.

“Ons kan nie die belang van verantwoordelike gedrag wanneer jy uitgaan, veral naby water, genoeg benadruk nie. Ons amptenare kan ook net soveel doen en ons het mense se hulp nodig om te verseker ʼn uitstappie eindig goed vir almal betrokke.

“Ek doen ʼn beroep op al ons strandgangers, maar ook besoekers aan ons swembaddens en ander ontspanningsfasiliteite, om die alkohol by die huis te laat. Dit is die enkele grootste oorsaak van trauma en roekelose gedrag en gegewe die druk waaronder ons gesondheidstelsel in hierdie stadium reeds is, is dit iets wat ons kwalik kan bekostig,” het Badroodien gesê.

Die stad bring intussen gereeld oorsigbesoeke aan strande om te verseker daar word aan Covid-19-maatreëls voldoen. Die meeste mense het sosiale afstande gehandhaaf, maar die dra van maskers bly ʼn probleem.

Maskers moet ten alle tye op die strand gedra word, tensy jy gaan swem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.