Soektog na vermiste 9-jarige eindig tragies

Previledge Mabvongwe. Foto: Verskaf

Die soektog na ʼn negejarige meisie van Kraaifontein in Kaapstad, wat sedert Maandag vermis was, het tot ʼn tragiese einde gekom.

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê die liggaam, vermoedelik dié van Previledge Mabvongwe, is Donderdag om 08:40 op ʼn stortingsterrein in Sam Jokozela, Bloekombos, aangetref.

“Die meisie was steeds in haar skoolklere toe haar liggaam gevind is,” het Rwexana gesê.

Previledge is Maandag omstreeks 16:00 die laaste keer lewend gesien toe sy deur ʼn minibustaxi naby haar huis in Kraaifontein afgelaai is. ʼn Soektog na haar is van stapel gestuur nadat sy nie soos gewoonlik by die huis aangekom het nie.

Die oorsaak van haar dood is nie bekend nie en sal deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel word.

Die polisie ondersoek ʼn saak van ontvoering en moord en het Donderdag die stortingsterrein vir enige leidrade gefynkam.

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om kapt. Loganathan Chetty by 082 522 1039 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

CK ·

Dit is tragies. Sterkte aan die gesin en familie. Geen ouer moet hierdie deurstaan nie.

IK ·

Kom ek gee julle ‘n brief dat ook verkragting deel is hiervan. Hierdie is nou ‘n alledaagse verskynsel of hoe, Lindiwe?

Theresa B ·

Dit is baie hartseer. So tragies. Wil nie eers dink waardeer is die klein lyfie nie. Hoe wreed is hierdie grootmens-wêreld net nie.

Liezl ·

Dis verskriklik wreed, so jammer vir jou meisiekind. Dis waar Theresa, ‘grootmense’ is veronderstel om tussen reg en verkeerd te onderskei, ‘grootmense’ moet hul kinders opvoed met Christelike waardes, ‘grootmense’ is mos ‘grootmense’, hoekom vang ons ‘grootmense’ sulke onbesonne dade aan. Word groot ‘grootmense’, jy kan mos beter dink, beter optree. Waar het jy teen die lewe gebots,sorteer jou eie lewe uit op jou eie en hou op om jou hande neer te lê op onskuldige kinders. Buig jou knie voor jy iemand anders blameer vir jou ongelukkigheid.

Antjie ·

Gebroke kinders word gebroke grootmense. Alles is n bose kringloop. Ek verstaan hoekom oom Angus altyd se “get your own house in order”, want alles begin by die huis….en nee..ek beskuldig nie die kind se ouers van enigeiets nie. Wat ek se tel vir ons almal. As kinders bv. uit gesonde gesinne kom…is die kans groter dat hulle gesonde volwassenes sal wees wat weer die kans vergroot op gesonder samelewing. Maar die tendens is dat baie “pa’s” die pad vat en die ma moet die kinders alleen grootmaak, en andersom. ..die dat ek ook besef hoekom oom Angus altyd praat oor pa’s wat hulle verantwoordelikhede moet nakom ten opsigte van hulle gesinne…want as pa’s dit sou doen en minder huisgesinne uitmekaar sou val…sou ons probleme minder gewees het. Daai moordenaar, gangster, verkragter of die was ook eens op n tyd in hul lewens n tienjarige seuntjie/dogtertjie…so waar het dinge verkeerd gegaan? Die oplossing vir misdaad en geweld le nie in die behandeling van simptome nie…maar in die uitroei van die wortel van die probleem en ek glo die wortel is swak maatskaplike omstandighede. n Bose kringloop: Armoede (gebroke gesinne en enkelouers)-maatskaplike verval-gebrek aan ambisie-gebrek aan opvoeding- gebrek aan werk- gebrek aan inkomste-armoede. Nou ja…dis MY opinie en mag verskil van ander mense wat hier lees en ek gun elkeen sy/haar opinie.

Willie ·

Skokend hoe onskuldige kinders geteiken word… did uiters hartseer

Elize VvZ ·

Ai toggie, ek’t só gehoop sy sou veilig gevind word. Dink net hoe bang moes die ou klein mensie nie gewees het nie! Dit breek my hart!

Wiki ·

Regtig nou meneer president, regtig nou, kan jy nie sien alles in die land is besig om hand uit te ruk nie! hoe slaap jy in die aand… is jy trots om die President van die hool genoem te word? Ek sal my kop in skaampte sak as ek jy was.
Sterkte aan die familie. Dit is baie hartseer.

Abel ·

Siek mense in die wêreld, hoe bang moes daai kleine mensie nie gewees het voordat sy dood is nie…….. Rus saggies by Jesus se Voete meisiekind xx

Andrea ·

Ek stem saam, Abel. Dis vir my so verskriklik om te dink waardeur so ‘n kindjie gaan voordat die dood uiteindelik kom. Dis vir my so wreed. Enige mishandeling en moord is onaanvaarbaar, maar wanneer kinders, diere en oumense so moet ly, voel dit vir my erger.
Jammer, mooie ou meisietjie, dat jy deur soveel geweld en ellende moes gaan.

Stuiwer ·

Dis baie gevaarlik vir ‘n negejarige (veral ‘n meisie) om alleen taxi te ry en dan huistoe te moet stap. Dis so onnodig!

Elde ·

Doodstraf, dis al wat werk. Jy vat ‘n mens se reg om te lewe weg so die skuldige s’ n moet ook weg gevat word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.