Soektog na vermiste Benoni-vrou eindig tragies

Marie Brisley-Clarvis. Foto: Via Facebook.

Die soektog na ʼn vrou van Benoni aan die Oos-Rand wat vroeër die week in Mosselbaai verdwyn het, het tragies geëindig toe haar liggaam Donderdag gevind is.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê Marie Brisley-Clarvis (54) en ʼn vriend het Dinsdag in Mosselbaai aangekom en by die Pinnacle Point-gholflandgoed vir ʼn vakansie tuisgegaan.

Sy is Woensdag die laaste keer gesien toe sy teen 10:30 gaan stap het. Haar vriend het nie saam gaan stap nie. Hy het onraad vermoed toe sy teen 15:00 nog nie teruggekeer het nie en by die nabygeleë Garden Route Casino en omliggende gebiede na haar gaan soek. Die polisie is daarna van haar verdwyning in kennis gestel en ʼn soektog is van stapel gestuur.

“Die soektog is teen Woensdagaand weens swak lig uitgestel en is Donderdagoggend hervat,” het Pojie gesê. “Die polisie se honde-eenheid en soek-en-reddings-eenheid van George en Mosselbaai het aan die soektog deelgeneem.”

Brisley-Clarvis se liggaam is later onder op die rotse langs ʼn wandelpad op ʼn krans opgespoor. Die vermoede bestaan dat sy na haar dood geval het.

“Die presiese omstandighede rondom haar dood is onbekend en word deur ʼn geregtelike doodsondersoek vasgestel. In dié stadium word geen gemene spel vermoed nie,” het Pojie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

tamboti ·

Ai ek is regtig hartseer oor haar dood: die eerste dag van haar vakansie?

Dirkie ·

Johann
Ek stem saam met jou, saam op vakansie maar julle verken nie saam die pragtige omgewing nie. Men’s moet nie altyd die ergste verwag nie, maar hier is 1+1 gelyk aan 3 en dit moet 2 wees. Hoop ek is verkeerd.

elke ·

Die roete is gevaarlik, daar is heelwat plekke waar mens sonder enige moeite jou been kan breek of erger. Dit lyk nie verskriklik gevaarlik nie, maar dit is veral as see mis of reen toesak. Baie jammer vir die vrou en haar mense.

Sandra ·

Hoe seker is hulle sy het wel alleen gaan stap? Baie hartseer tyding vir haar familie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.