Soektog na vermiste Cradock-juffrou verskerp

Theresa Buys. Foto: Verskaf.

Theresa Buys. Foto: Verskaf.

Die polisie gaan Donderdag die soektog na Theresa Buys, ʼn 43-jarige kunstenaar en onderwyseres van Cradock in die Oos-Kaap, uitbrei indien daar teen dan nog geen teken van haar liggaam in die Visrivier gevind is nie.

Kapt. Stefanie Smith, ʼn woordvoerder van die polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Buys se liggaam is nog nie gevind nie en dat die polisie se honde-eenheid steeds die gebied fynkam.

Die gebied wat Buys se vermeende moordenaar, Marius Isaacs (25), aan die polisie uitgewys het, is naby ‘n laagwaterbrug. Hy het glo tydens ondervraging aan die polisie erken dat hy haar vermoor en haar liggaam daar gestort het.

Maroela Media het vroeër berig Buys, wat sedert die begin van die jaar kuns by die Voorbereidingskool Cradock gee, verlede Maandag vir die laaste keer gesien is toe sy die skool verlaat het. Sy woon alleen in ʼn huis op ʼn plaas wat sy by ʼn boer in die omgewing huur.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat Buys se buurvrou verlede Dinsdagmiddag ʼn plas bloed in Buys se huis aangetref het. Die Cradock-polisie het Woensdagmiddag Buys se voertuig verlate in die Michausdal-woonbuurt opgespoor. Die polisie het Isaacs kort daarna in hegtenis geneem.

Hy is glo ʼn werker op die plaas waar Buys woon.

Isaacs het Vrydag in die Cradock-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord. Die saak is tot 18 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Lees ook:
Cradock-juffrou steeds vermis; verdagte in hof vir moord
Cradock-juffrou steeds vermis
Cradock-juffrou vermis; polisie ondersoek moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.