Soektog na vermiste DA-leier gaan vir derde dag voort

Petro Nel. Foto: Facebook

Petro Nel. Foto: Facebook

Die soektog na Petro Nel, die vermiste adjunkleier van die DA in Noordwes, gaan Saterdag vir die derde dag in Nepal voort.

Chris Hattingh, voormalige DA-leier in Noordwes, het aan Maroela Media gesê die soektog gaan in die lug en op die grond voort. Nel is al sedert Donderdag vermis nadat die ligte vliegtuig waarin sy ʼn passasier was in Nepal verdwyn het. Nel (58) en ʼn Russiese vlieënier was die enige insittendes in die vliegtuig toe dit vermis geraak het. Sy was glo met vakansie in Nepal.

“Die owerhede in Nepal het aan ons gesê inwoners van ʼn klein dorpie in die gebied het beweer hulle het ʼn ligte vliegtuig daar naby gesien en die soektog gaan vanoggend in daardie area hervat,” het Hattingh gesê. “Die verskillende reddingspanne en rolspelers het [Vrydag] vergader en dit het toe aan die lig gekom dat die vliegtuig waarin hulle gevlieg het, toegerus is met ʼn valskerm wat die hele vliegtuig in noodsituasies veilig grond toe kan bring. Dit gee ʼn mens darem so ekstra bietjie hoop.”

Volgens Hattingh is die gebied waar die vliegtuig vermis geraak het uiters bergagtig met slegs klein afgeleë nedersettings wat plek-plek voorkom. Dit maak die soektog nog meer uitdagend. “Ons het egter nie hoop verloor nie en hoop dat sy spoedig veilig sal terugkeer,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.