Soektog na vermiste DA-raadslid hervat

Petro Nel. Foto: Facebook

Petro Nel. Foto: Facebook

Die soektog na Petro Nel, adjunkleier van die DA in Noordwes wat Donderdag vermis geraak het nadat die ligte vliegtuig waarin sy ʼn passasier was in Nepal verdwyn het, is Vrydagoggend hervat.

Chris Hattingh, voormalige DA-leier in Noordwes, het aan Maroela Media gesê daar is steeds geen teken van die vliegtuig nie. “Ons is heeltyd in kontak met die owerheid in Nepal en tot dusver het hulle nog niks gevind nie,” het hy gesê.

Hattingh het gesê net Nel (58) en ʼn Russiese vlieënier was in die vliegtuig toe dit vermis geraak het. Hulle moes Donderdagaand die soektog opskort toe dit te donker geraak het. Nel was glo met vakansie in Nepal en was op ʼn besigtigingsvlug oor ʼn bergagtige gebied toe kontak met die vliegtuig verloor is.

Volgens Hattingh is dit ʼn baie moeilike tyd vir Nel se man, JC, wat sedert haar verdwyning oorval word deur joernaliste en fotograwe. Nel is ook die ma van twee seuns, John-J en Juan.

Volgens haar CV het Nel drie grade aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf, waarna sy by die Vrystaatse onderwysdepartement aangesluit het. Sy was by verskeie skole in die provinsie betrokke, voordat sy in 2000 heeltyds by Klerksdorp se plaaslike munisipaliteit aangesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.