Soektog na vermiste Kaapse sielkundige duur voort

Diane Nelson (Foto: Facebook)

Die kliniese sielkundige van Kaapstad wie se verlate motor dié naweek in die Cecilia-woud in Constantia, aan die voet van Tafelberg, aangetref is, word steeds vermis.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het dié nuus Donderdag aan Maroela Media bevestig.

Geliefdes van die 49-jarige Diane Nelson het haar die afgelope naweek by die Claremont-polisiestasie as vermis aangemeld. Nelson is laas op 23 Junie om 20:00 lewend gesien. Verskeie ondersoekspanne, onder wie die Wilderness Search & Rescue-groep en die polisie se honde-eenheid, soek al sedert 23 Junie na haar.

Traut sê ʼn ondersoek na Nelson se verdwyning duur voort. Die polisie kan egter nie in dié stadium meer besonderhede rakende die ondersoek bekend maak nie.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van die Pink Ladies, het gesê dié organisasie wil mense maan om nié gebiede wat as gevaarlik geklassifiseer word alleen te besoek nie.

“Mense moet ongelooflik versigtig wees wanneer hulle hulself in gebiede bevind waar daar nié ander mense om hulle is nie. Ons bly hoop dat Nelson gevind word, maar wil intussen mense maan om ekstra waaksaam te wees – veral in die nag en wanneer hulle alleen is,” sê sy.

Volgens Rechner het Nelson ʼn donker top en ʼn grys broek gedra voordat sy verdwyn het. Sy is sowat 1,8 m lank, het ʼn medium liggaamsbou en ʼn tatoeëermerk aan haar gewrig.

Enigeen met meer inligting oor haar verdwyning word versoek om die Pink Ladies by 072 214 7439 in kennis te stel. Die publiek word ook gevra om konst. Nkonki by 021 657 2243 of 079 894 1563 te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

vraag, hoekom het die polisie nie die honde eenheid in die bos ingestuur nie, Toe hulle die inligting ontvang het kon die spoor nog vars genoeg vir honde gewees het, Nou het dit intussen so lekker gereen dat daar nou nie meer spore sal wees nie. Sjoe dit is so hartseer om sulke goed te moet lees.

Honde-eenheid ·

Sandra; jy het duidelik nie die berig gelees nie. Daar word aangedui dat die polisie se honde-eenheid, onder andere, al sedert die dag van die vrou se verdwyning na haar soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.