Soektog na vermiste lewensredder eindig tragies

Thokozani Mthethwa (Foto: Facebook)

Die liggaam van die lewensredder wat die naweek in die see naby Muizenberg verdwyn het, is gevind.

Thokozani Mthethwa (23) se liggaam is Maandag vroegaand tussen Sonwabe en Sunrise-strand gevind. Sy liggaam het op die strand uitgespoel.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid van gemeenskapsdienste en gesondheid, sê paramedici het Mthethwa op die toneel dood verklaar.

Maroela Media het vroeër berig ’n grootskaalse soektog is gelas nadat Mthethwa Saterdag van ʼn reddingslee afgeval wat deur ʼn jetski gesleep is toe lewensredders ʼn sweefskiër wou bystaan wat naby St. James-strand in die moeilikheid beland het.

(Foto: ANA)

Lewensredders van Muizenberg het net voor 15:00 gereageer op die oproep oor die sweefskiër. ’n Senior lewensredder het die jetski bestuur en Mthethwa was op die reddingslee.

Hy het egter tussen 50 m en 100 m van die kus af van die reddingslee afgeval en onder die water verdwyn.

Badroodien het namens die Stad Kaapstad sy medelye met Mthethwa se naasbestaandes betuig.

“Hy is die eerste personeellid wat die Stad Kaapstad se departement van parke en ontspanning in die uitvoer van sy pligte verloor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nella ·

So jammer om te hoor. My hart gaan uit na sy geliefdes. Ek bly self by die see en ons lewensredders het geen spiere en ek sien hulle nooit in die see oefen nie. Hulle werk sonder en/of met bitter min betaling. Of lei die NSRI hulle wel op? Ek sien nou nog die lewensredders as kind so 40 jaar gelede. Blonde lang krullerige hare met bruin gespierde lywe op Amanzimtoti se strand. Vroegoggend het hul die ergste branders aangedurf vir in n noodgeval dat hul wel die branders kon trotseer

Piet ·

Hierdie ouens is almal baie goed opgelei deesdae, veral hierdie ouens wat op die bote uitgaan om mense te red. Hy was ook ‘n werknemer van Stad Kaapstad.

Josua ·

Was in Januarie 2020 by die see Amanzimtoti en moet ek sê die lewesredders daar is nie baie stewig gebou nie. Ek self was jare gelede n goeie swemmer en het saam lewensredders(Binneland) aan kompitisies deelgeneem, wat my egter pla is dat die manne hul Fluitjies soos vuvuzelas gebruik en dit maak die mense op die strande totaal deurmekaar dit lyk of hulle n sokker wedstryd en die werklike doel van die fluitjies ontbreek en stem ek saam ek twyfel of die manne iemand sal kan red hulp verleen moontlik maar uirbring ek twyfel. Jy kan dalk ‘n goeie swemmer wees maar wanneer jy iemand se lewe moet red wat besig is om te verdrink is dit n heel ander storie, fiksheid, krag en taktiek is van kardinale belang veral by die see, hulle ry wel met quad motorfietse op en af maar het nie een regtig gesien wat die oggend die see aandurf voor hul skof begin soos in die verlede nie en dit maak my baie bekommerd. die dissipline en paraadheid soos in die verlede ontbreek beslis.

Piet ·

Ek dink die lewensredders by die see ken oor die algemeen hul storie. Ek was ook ‘n lewensredder (by die see) net na skool. Kennis van die plaaslike seetoestande is waarskynlik die belangrikste. My ondervinding is dat dit juis daai maer, tengerige mannetjies is wat jy so min van dink wat jou ore aansit. Baie gevaarlik om net op voorkoms te oordeel.

Johannes Andreas ·

Tussen 50 en 100 meter van strand af? Hoe kan ‘n lewensredder dan nie daardie entjie self uitswem nie? Wat het gebeur met die afval slag? Kop besering opgedoen? Hoekom enigsins afgeval? Kyk bietjie dieper, iets maak nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.