Die soektog na Tristan Dennis (30) wat Saterdag op die eerste dag van die Midmarmyl verdwyn het, het Maandagoggend met eerste lig hervat.
Volgens die organiseerders van die gewilde swemresies word die soektog gelei deur die polisie se soek- en reddingspan, onder leiding van lt. Jack Haskins. “Die soektog het Sondag voortgeduur totdat dit weens slegte weerstoestande en swak sigbaarheid opgeskort moes word,” het die organiseerders in ʼn verklaring gesê.
Polisieduikers en duikers van die vloot fokus op ʼn gedeelte van die dam wat deur snuffelhonde geïdentifiseer is.
Candice-Lee Dennis, Tristan se suster, het op Facebook geskryf: “Die soektog duur voort. Dankie vir al die liefde en ondersteuning. Hou asseblief aan om te bid.”
Maroela Media het Sondag berig Dennis, van Durban, het aan sy maatskappy se aflosresies deelgeneem en om 11:22 in die water ingegaan. Daar is egter nie enige teken dat hy weer uit die water gekom het nie.
Sy vriende wat saam met hom geswem het, het die organiseerders in kennis gestel nadat hulle vir langer as ʼn uur gewag het vir hom om uit die water te kom.
Die protokol wanneer iemand verdwyn is dadelik ingestel en al die mediese fasiliteite is deursoek en daar is bevestig dat lewensredders hom ook nie uit die water gehaal het nie.
Dennis se gesin is in kennis gestel en hulle het na Midmar gehaas om naby die soektog te wees. Saterdag se soektog is omstreeks 19:40 opgeskort weens swak sigbaarheid.
Tarquin Dennis, Tristan se ouer broer, het Sondag die wedstryd namens sy broer voltooi. Candice-Lee het in reaksie daarop ʼn boodskap aan Tristan geskryf: “Tristan, jou broer is vasberade om die wedstryd in jou eer te voltooi. Ons is lief vir jou en hoop en bid vir ʼn wonderwerk om jou terug te bring na ons. Asseblief God, hoor ons gebede.”
“Ek doen dit want hy is my broer,” het Tarquin toe gesê. “As hy in ʼn geveg was, sou ek hom gehelp het. Dit is nie goed genoeg om tot volgende jaar te wag nie, ek moet hom nou ondersteun.”