Soektog na vermiste pa eindig tragies

Jaco Labuschagne.

Jaco Labuschagne (37), ʼn pa en elektrisiën van Gauteng, se liggaam is gevind nadat hy in November 2017 spoorloos verdwyn het.

Selinda du Plessis (34), Labuschagne se suster, het Donderdag die nuus aan Maroela Media bevestig.

“Hy is uiteindelik verlede Maandag gevind, maar dit was ongelukkig te laat. Hy was reeds dood,” het Du Plessis gesê.

Labuschagne het voor sy verdwyning sy eie onderneming bedryf en onder meer nutswerk verrig. Hy het die afgelope 18 jaar op Elsburg, suidoos van Germiston, gewoon. Hy was ongetroud en die pa van ʼn 10-jarige seun.

Maroela Media het vroeër berig Labuschagne het ʼn boodskap vir sy familie gestuur voordat hy op 27 November verdwyn het. Hy het baie depressief voorgekom.

Labuschagne se wit JMC-dubbelkajuitbakkie is die laaste keer in die omgewing van Heidelberg gesien.

Sedertdien het sy familie en ma, Lenie Haupt (58), onverpoos na hom gesoek. ʼn Vermistepersoonsaak is ook by Elsburg-polisie aanhangig gemaak en ʼn foto met sy persoonlike inligting is onder meer deur Pink Ladies versprei.

Du Plessis het gesê dit het intussen aan die lig gekom dat Labuschagne na KwaZulu-Natal gegaan het. Hy het van sy selfoon ontslae geraak. Niemand daar was bewus daarvan dat hy in Gauteng as vermis aangemeld was nie.

Nadat die polisie ontbied is toe sy liggaam gevind is, is daar vasgestel hy was as vermis aangemeld. Sy naasbestaandes is in kennis gestel en sy broer het hom verlede week gaan uitken. Sy gesin het versoek dat die oorsaak van sy dood nie bekend gemaak word nie.

Volgens Du Plessis is dit ʼn baie sensitiewe saak. “Ons het hoe lank na hom gesoek. Daar is soveel vrae wat onbeantwoord bly. Ja, hy is gevind, maar niemand weet hoekom hy weg is nie. My ma het baie seer, is ontsteld en kwaad vir die wêreld. Dit is vir haar baie stresvol. Sy is nie baie gesond nie en die stres gee haar gesondheid ʼn ekstra knou.”

Labuschagne se geliefdes hou Saterdag ʼn private roudiens vir hom in Elsburg.

Buiten Labuschagne se seun, ma en Du Plessis, laat hy sy suster, Esther Tredoux (31), en broer, Harm Labuschagne (35), en uitgebreide familie agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.