Soektog na vermiste pa eindig tragies

Carl van Rooyen. Foto: Facebook.

Carl van Rooyen. Foto: Facebook.

Carl van Rooyen (54), wat sedert Saterdag vermis was, se liggaam is Dinsdag gevind.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het bevestig Van Rooyen se liggaam is omstreeks 17:20 gevind. “Sy liggaam is in die Olifantsrivier gevind. ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen en ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.”

Volgens die gemeenskapspolisiëringsforum in Clanwilliam is Van Rooyen se liggaam naby Pampoendrif in Clanwilliam gevind. “Ons dink aan sy familie in hierdie tyd en vra dat God hulle sal dra. Ons wil baie dankie sê vir almal wat deel was van die soekgeselskap. Ons vra dat die familie se privaatheid asseblief gerespekteer word.”

Van Rooyen het Saterdag laatoggend aan familie gesê hy gaan ʼn entjie stap en nooit teruggekeer nie.

Hy het sy beursie, selfoon en sleutels by die huis gelos. Volgens Van Rooyen se familie sou hy deur die berge stap en terugswem na die Riviera-landgoed by die Bulshoekdam waar hulle woon.

Van Rooyen is glo Saterdag op die N7, byna 12 km van Clanwilliam af, gesien. Familie, vriende en die polisie het dadelik na hom begin soek toe hy nie laatmiddag teruggekeer het huis toe nie.

Van Rooyen word oorleef deur sy ouers en twee seuns, Christopher (24) en Allister (23).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Treurgrond ·

Jesus hou asseblief U hand en arms om die familie. Die moorde op onse mense raak net erger en erger Jesus. Ek weet nie meer wat om te se nie dit raak net erger en erger.

E.K. - ek sê net! ·

treurgrond jy maak darem wilde aannames! Die man kon moontlik deur sterk strome meegesleur word en verdrink het (siend ehy terug wou swem). Daar staan nêrens dat hy vermoor is nie. Wag tog tot die nadoodse uitslag voor jy weer op die moordtrein spring alla wêreld tog!

Yvette ·

Hallo Treurgrond. Ek het ook dadelik gedink, nog n moord”want, dis presies wat ons hierdie hele jaar sover sien. Ek voel jou hart en stem saam met jou. Ons is stukkend en seer en roep na Jesus. Innige medelye met sy gesin.

Alida ·

Ja rerig alle sterfgevalle is nie noodwendig moord nie. Op sy ouderdom kon hy ‘n hartaanval of iets gekry het. Maar nou-ja deesdae kan mens niemand kwalik neem as hulle aan moord dink nie want daar gaan meer mense aan onnatuurlike oorsake dood as natuurlike oorsake.

Anoniem ·

Ai mense, dit gaan nie die man weer lewendig maak as ons presies weet hoe hy dood is nie. Sy familie en vriende se harte is seer vanoggend. Mag ons Hemelse Vader hulle dra in hierdie moeilike tyd.

Jem ·

Laat ons eers wag vir die uitslae van die nadoodse ondersoek voordat die negatiewes nou weer net weer glo dit is nog n moord. Ek bid vir die naasbestaandes in hierdie hartseer tyd. Mag God julle omvou en vertroos.

Reti ·

Ek stem ons moet nie net aannames maak en ons onsself in toestand indink nie. Mens kan nie helder dink as mens so negatief is nie. Ek weet dis moeilik maar kom ons praat met onsself.

AL ·

Sterkte aan sy gesin in hierdie tyd van droefheid. Maroela gee asb opvolgartikel met sy nadoodse ondersoek.

Vincent ·

Waar geen gemene spel vermoed word nie (geen ooglopende uitwendig beserings of tekens van ‘n aanval nie) open SAPS ‘n GDO – geregtelike doods ondersoek. So op hierdie stadium lyk dit nie na moord nie.

Pietser ·

Lyk my party mense skree VOLKSMOORD nog voordat hulle ‘n berig op maroela gelees het.

Marita ·

Sterkte aan die familie. Wat die wilde aantygings sonder enige bewyse betref: om heeltyd moord-moord te skree, is op dieselfde vlak om apartheid vir alles die skuld te gee. Laat ons redelik optree, soos denkende wesens wat nie soos skape op een noot bler nie.

VM ·

Vandat die eerste berig van Carl verskyn het, het ek begin bid dat hy veilig gevind sou word. Elke halfuur op Maroela geloer of daar al enige nuus is. Groot was my hartseer vanoggend toe ek moes verneem dat Carl oorlede is. Mag God se liefde sy familie in hierdie moelike tyd omsingel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.