Soektog na vermiste Pta-meisie eindig tragies

Katlego Joja (10)

Die soektog na ʼn 10-jarige meisie van Pretoria wat met outisme gediagnoseer is, het tragies geëindig toe haar liggaam Sondagmiddag opgespoor is.

Die meisie, Katlego Joja, is Donderdag vir die laaste keer by haar huis in Mamelodi, in die noordooste van die stad, gesien. Sy het ʼn oranje baadjie, pienk trui, pienk spanbroek en pienk tekkies aangehad.

Haar ouers het haar as vermis by die polisie aangemeld en ʼn saak van ʼn vermiste persoon is aanhangig gemaak. ʼn Soektog na haar is daarna van stapel gestuur.

Kapt. Johannes Maheso, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê ʼn lid van die publiek het Sondagmiddag ʼn voorwerp in die Moretelerivier in Mamelodi sien dryf.

“Die inwoner het gesien die voorwerp lyk soos ʼn persoon se liggaam en het die polisie ontbied. Beamptes van die soek-en-reddingseenheid het die liggaam omstreeks 17:00 uit die rivier gehaal en daar is vasgestel dat dit die liggaam van Katlego is. Haar ouers was ook op die toneel en hulle het haar uitgeken,” het Maheso gesê.

Haar liggaam is na ʼn staatslykshuis geneem waar ʼn nadoodse ondersoek gedoen sal word.

“Die oorsaak van haar dood is nog onbekend en dit is ook nog nie duidelik hoe lank sy in die rivier was nie. Ons kan dus nog nie vasstel of daar vuilspel vermoed word nie. Die uitkoms van die lykskouing sal dit bepaal,” het hy gesê.

Die polisie doen tans ʼn geregtelike ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

ronel ·

So jammer oor die meisietjie! Mag haar ouers krag en sterkte ontvang om haar dood te verwerk.

Elvira ·

Ai my hart is seer vir hierdie dogter enha ar familie en maatjies. Rus sag en in vrede.

Hennie ·

Dis baie jammer. Die pragtigste kinders. my 7 jarige ook outisties.

Penellope Jones ·

Ai, tragies om sulke nuus te lees van die dood van ‘n jong kind.

Oom Kalahari ·

Dit is jou waarlik hartseer en ‘n tragiese einde van so ‘n jonge kind se lewe. Mag hierdie ouers hul groot verlies kan verwerk en vertroosting in die Hemelse Vader vind. Alle medelye en sterkte aan hiwrdie Ouers, familie, vriende en maatjies. RIV jonge kind.

GM ·

Mag sy in vrede rus. Sy was ‘n mooi dogtertjie. Sterkte aan haar naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.