Soektog na vermiste seun (12) kom tot ʼn hartseer einde

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn 12-jarige seun se liggaam is gevind nadat hy Vrydagmiddagmiddag vermis geraak het terwyl hy in die see gaan swem het.

Sarah Smith, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in St. Francisbaai in die Oos-Kaap, het Sondag bevestig die seun se liggaam is Saterdagmiddag gevind.

Smith het gesê NSRI-bemanning is Vrydag omstreeks 17:00 na Main-strand ontbied nadat berigte ontvang is dat ʼn seun besig is om in die see te verdrink.

Die polisie en ʼn ambulans is ook ontbied.

“ʼn Uitgebreide soektog na die seun is van stapel gestuur. Volgens ooggetuies is die seun die laaste keer gesien toe hy met sy gesig na onder op die water gedryf het. ʼn Sterk seestroom het hom na bewering in die see in meegesleur,” het Smith gesê.

“Ten spyte van ʼn kuslynsoektog en uitgebreide soektog in die water, is daar geen teken van die seun gevind nie.”

Die polisie se duik- en honde-eenheid het Saterdag met hul soek-en-reddingsoperasie voortgegaan.

“Die polisie het op sy liggaam op die strand afgekom en die liggaam verwyder,” het sy gesê.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die seun se naam is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Dit is belangrik vir mense om te weet dat as dit sou gebeur dat ‘n seestroom jou inwaarts sleur, moet nooit daarteen veg en probeer terugswem nie. Moet nie teen die stroom swem nie maar swem in lyn met die strand om uit die stroom te swem. Daardie strome is gewoonlik 100 meter breed of selfs smaller. Jy moet nie daarteen swem en jouself uitput as dit sou gebeur nie. Swem in lyn met die strand om sodoende uit die sterk seestroom te swem na kalmer waters.

Pop ·

Cherokee, jy is seker in KZN. Dit tel vir alle seestrome maar die see in die kaap is baie koud. Binne paar minute is jy tot op die been koud. Mense kry warm en gaan swem maar as jy nie “wetsuit” aanhet nie kom hulle baie gou uit. Dan is jy afgekoel. My seun gaan duik kreef by rooi els en hy sê selfs met sy Suit aan kom hy na 10 min uit want dis koud. Siestog ek bid vir die kind se familie alle sterkte toe. Dis so seer om n kind te verloor. ??

Cherokee ·

Dìt Pop, is waarom KZN die juweel van die land is. Vergelyk: Julle het pragtige landskap en staan nie werklik ver terug vir KZN nie en die provinsiale regering in KZN is die ANC en by julle die DA wat steeds dieselfde is maar (!)…, by ons swem mense selfs in die winter en by julle nie eens graag in die somer nie! Indiese Oseaan vs Atlanties…

Ns ·

Verander absoluut niks van Cherokee se tips nie, altyd gedink dis nogals logies, maar sien meer en meer wat nie kan swem nie, in die see in ploeter.

Sputnik ·

Om aan te sluit by Cherokee, swem ook STADIG om jou nie uit te put nie.

Se net ·

Die See in KZN is op die oomblik baie onstuimig en gevaarlik. Dis is seker die ergste wat EK dit in Jare Gesien het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.