Soektog na vermiste stadsbeplanner afgelas

Jaco Prins vermis – Alberton

Die soektog na Jaco Prins (42), die stadsbeplanner wat verlede Maandag spoorloos aan die Oos-Rand verdwyn het, is Donderdag afgelas.

Mike Bolhuis, die spesialis ondersoeker wie se dienste deur ʼn vriend van Prins ingewin is in ʼn poging om hom op te spoor, het aan Maroela Media bevestig Mike Bolhuis Specialised Security Services het amptelik van die ondersoek onttrek.

“Dit het aan die lig gekom dat Prins uit sy eie wil, weens persoonlike redes, die pad gevat het. ʼn Vermistepersoonsaak word dus nie meer ondersoek nie, aangesien daar geen misdaad betrokke is, of dood of ontvoering vermoed word nie.”

Bolhuis het gesê hy gaan berading aan Prins se vrou en die egpaar se sewejarige dogter bied en dat die vrou en dogter finansieel deur familielede ondersteun word.

Bolhuis het die publiek bedank wat gehelp het om na Prins te soek. “Die mense hoef nie meer vir hom uit te kyk nie. Hy leef en is nie in gevaar nie,” het Bolhuis gesê.

Maroela Media het vroeër berig Prins, ʼn stadsbeplanner van Alberton, se geliefdes het ook ʼn vermistepersoonsaak by die Brackendowns-polisiestasie aanhangig gemaak.

Hy werk vir Urban Dynamics as ʼn stadsbeplanner en het verlede Maandag omstreeks 09:00 sy kantoor verlaat om huis toe te gaan om voertuie te ruil. Hy is daarna nog nie weer deur sy geliefdes gesien nie en sy selfoon is afgeskakel.

Bolhuis het gesê die ondersoekspan is van die nuwe verwikkelinge in kennis gestel.

Lees alle vorige berigte oor Jaco Prins op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.