Soektog na vermiste student afgelas

Marie Ostbo. Foto: Verskaf

Die soektog na die vermiste Noorweegse student Marie Ostbo (21), wat verlede maand in Sedgefield in die Wes-Kaap verdwyn het, is afgelas.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê hoewel die soektog amptelik afgelas is, sal polisiebeamptes steeds van tyd tot tyd by verskillende punte soektogte uitvoer. Volgens Pojie was daar nog geen teken van Ostbo sedert sy verdwyn het nie en was daar ook nog geen nuwe leidrade nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn plasing wat op Facebook die ronde gedoen het dat Ostbo tussen Migdol en Delareyville in Noordwes gesien is, is deur die polisie as ʼn wolhaarstorie afgemaak. “Daar is niks konkreets wat ons in dié verband kan opvolg nie. Indien mense dink hulle het Ostbo gesien, moet hulle asseblief hul naaste polisiekantoor verwittig,” het Pojie destyds gesê.

Atle Ostbo, Marie se pa, glo egter dat sy dogter nog leef. Hy het gister vir die soveelste keer op Facebook geskryf: “Solank as wat daar hoop is, is daar lewe”.

Ostbo het op 18 April verdwyn terwyl sy saam met ʼn buitelandse studentetoergroep in Sedgefield in die Wes-Kaap vertoef het. Sy het volgens die polisie net ná 18:00 saam met die groep op die strand gaan stap. Sommige studente het Ostbo glo net voor 19:00 laas op die strand, sowat 100 m van waar die groep tuisgaan, opgemerk. Sy was geklee in ʼn paar blou jeans en ʼn wit T-hemp.

Die polisie het haar selfoon, ʼn hoed en skoene op die strand gevind in die omgewing waar sy vermis geraak het. ʼn Uitgebreide soektog het egter geen teken van Ostbo opgelewer nie.

Atle het vroeër gesê hy vermoed sy dogter is aangeval aangesien sy nie haar besittings op die strand sou los en met haar nuwe kamera sou gaan swem nie.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die betrokke owerhede is intussen steeds in verbinding met Ostbo se familie in die buiteland en word bygestaan deur die polisie, die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, die Noorweegse ambassade en die departement van toerisme.

Enigiemand met meer inligting wat kan lei tot Ostbo se opsporing word versoek om hul naaste polisiekantoor of die Sedgefield-polisie by 044 343 1321 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gestremde ·

Hoe is daar nie ‘n beloning uitgereik nie? Jammer het vergeet….verkeerde velkleur en seker nie fondse beskikbaar nie?

D P J ·

Nog ‘n sukse vir die SAPS.
Hulle los alle gevalle mos op!
Publiek prys hul elke keer.

Kiewiet ·

Hoe verskriklik pynlik moet dit wees. Om nie te weet nie… het sy seer gekry… was sy bang? Hierdie arme ouers. Vreemnde land en om alles so te los , want die soektog is afgelas. Hoe hoop jy dan?

GM ·

DPJ, regtig? As jou kollega sy werk vrot doen, beteken dit jy is net so sleg in jou werk? As almal die heeltyd net die slegte dade gaan onthou, en nooit die goeie dade gaan prys nie, van die polisiemanne wat nog trots is op hul werk, dan gaan die goeies NOG minder word. Dalk moet jy jou CV uitstuur as daar weer ‘n opening is in die polisiediens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.