Soektog na vermiste Switserse man afgelas

Verskeie groepe en vrywilligers het gehelp om na Wiesmann te soek. Foto: Facebook via Bossies Community Justice

Verskeie groepe en vrywilligers het gehelp om na Wiesmann te soek. Foto: Facebook via Bossies Community Justice

Nadat daar ses dae lank onverpoosd gesoek is na Nick Wiesmann, ʼn Switserse burger wat Saterdagaand in raaiselagtige omstandighede tydens ʼn troue in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin in Nelspruit vermis geraak het, is die soektog vandag afgelas.

Albert Gryvenstein, woordvoerder van Bossies Community Justice wat met die soektog gehelp het, het aan Maroela Media gesê die polisieondersoek sal steeds voortgaan, maar die soektog in die botaniese tuin is gestaak.

“Ons is ses of sewe keer deur die hele tuin. Selfs plekke wat vir ʼn jong man uiters moeilik begaanbaar is, wat nog te sê van ʼn man in sy 70’s, het ons drie keer deurgesoek. Die polisieduikers het in die rivier en al die damme gesoek, snuffelhonde is reg deur die tuin gebruik om te soek, helikopters het verskeie keer oor die tuin gevlieg, mense het met kwadfietse in die gebied rondom die tuin gesoek en ons het niks gevind nie. Ons kan met redelike sekerheid sê hy is nie in die tuin nie,” het Gryvenstein gesê.

Nick Wiesmann (76) en sy vrou, Bettina. Foto: Facebook

Nick Wiesmann (76) en sy vrou, Bettina. Foto: Facebook

Volgens Gryvenstein sal hulle die soektog hervat indien die polisieondersoek enige leidrade oplewer van waar Wiesmann mag wees, maar voorlopig word die ondersoek aan die polisie oorgelaat. “Dit was ʼn baie lang paar dae en dit is baie teleurstellend dat ons niks kon vind nie. Ons kan net dankie sê aan al die betrokke partye en al die vrywilligers wat hul tyd opgegee het om te help met die soektog. Ons hou mnr. Wiesmann se familie in ons harte en hoop ons kan ʼn positiewe leidraad vind wat ons na hom sal lei,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Wiesmann en sy vrou, Bettina, het die aand ʼn troue in die botaniese tuin bygewoon, toe Wiesmann omstreeks 18:00 gesê het hy gaan gou ʼn baadjie in die motor haal. Hy het nie weer teruggekeer nie. Die egpaar se motor het steeds gestaan waar hulle dit vroeër parkeer het, steeds met Wiesmann se baadjie in. Volgens beeldmateriaal van veiligheidskameras op die perseel is Wiesmann nooit by die hek uit waar die gaste ingekom het nie.

Gryvenstein het Donderdag gesê dit het intussen aan die lig gekom dat die Wiesmann-egpaar nie toeriste was soos daar aanvanklik beweer is nie, maar dat hulle Switserse burgers is wat die afgelope paar jaar in Kaapstad woon sedert hulle afgetree het. Hul kinders woon steeds in Switserland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leana ·

Arme man. Hoop maar hy keer ongedeerd terug na sy huis in Kaapstad.

Gerda ·

As hy nie by die hek uit is nie, en hy is nie in die tuin nie, waar op aarde is hy?

C ·

Sjoe dit is baie erg dat die Oom op so ‘n hoe ouderdom net tussen hemel en aarde kon verdwyne het. Mag ons Hemelse Vader, waar hy ookal homself mag bevind, beskerm en veilig hou totdat hy weer met sy familie en vriende herenig word. Sterkte aan die familie, ons dra jul in ons harte en gebede aan die Here op.

sue ·

Ek kyk seker te veel tv of iets. Maar dalk is hy iewers in n dak of n houer mens weet nooit. Die aarde het hom ingesluk of soos Piet se!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.