ʼn 17-jarige tiener van Mannenberg het Saterdag vermoedelik by Kampsbaai in Kaapstad verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
“Die NSRI is omstreeks 10:45 deur die hawe-owerheid ontbied ná berigte deur ooggetuies dat ʼn tiener in die see by Kampsbaai verdwyn het,” het Bruce Davidson, stasiebevelvoerder van NSRI Bakoven, gesê. Verskeie seereddingsvaartuie en reddingswemmers van die NSRI, ʼn Skymed-reddingshelikopter, paramedici van die provinsiale nooddienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Kaapstad se brand- en reddingsdiens en marine-beamptes het reageer op die noodroep.
“ʼn Groep van 23 tieners en jong volwassenes van Mannenberg het by Kampsbaai opgedaag om die dag op die strand te spandeer toe die 17-jarige in die moeilikheid beland en onder die water verdwyn het,” het Davidson bygevoeg. “Hy het vermoedelik in ʼn sleurstroom beland.”
Ondanks ʼn uitgebreide soektog is daar nog geen teken van die vermiste tiener nie. “Hy het vermoedelik verdrink.”
Volgens Davidson stel die polisie ondersoek in en hulle poog om die familie van die vermiste tiener op te spoor. ʼn Polisie-duikeenheid sit die soektog voort.
“Traumaberaders van die polisie ondersteun die groep kinders,” het hy gesê.
Die NSRI maan swemmers en vissers om versigtig te wees weens die springgety wat tot vanaand voortduur.