Soektog na vermiste veewagters afgelas

Foto: Facebook

Foto: Facebook

ʼn Soektog na 45 veewagters wat Saterdag in die berge by Mount Fletcher in die Oos-Kaap vermis geraak het nadat swaar sneeu in die gebied geval het, is afgestel.

Mandla Gceya, woordvoerder van die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit, het aan Maroela Media gesê ʼn soek-en-reddingspan, waaronder twee helikopters en die polisie se honde-eenheid, is ontplooi om na die veewagters te soek. Die soektog is egter Sondagaand afgelas nadat daar van almal rekenskap gegee is.

“Een van die veldwagters se liggaam is deur die soek-en-reddingspan in die berge gevind nadat hy vermoedelik verkluim het,” het Gceya gesê. “Daar is na bewering nog twee veewagters dood wie se liggame deur hul families na hul nedersettings aan die onderkant van die berg gebring is. Die polisie het egter gesê die sterftes is nie by hulle aangemeld nie en hulle kon dit daarom nie bevestig nie.”

Gceya het gesê die meeste veewagters kon hul eie pad huis toe vind en is weer terug by hul nedersettings. “Daar is egter nog omtrent ses veewagters in die berg wat weier om hul vee agter te laat en die berg te verlaat,” het hy gesê. Hy het gesê die veewagters het vir hulself informele strukture in die berg gebou.

“Die reddingspan het hulle gewaarsku dat daar nog sneeu op pad is en dat dit gevaarlik is om in die berg te bly, maar hulle wou nie hieraan gehoor gee nie. Daar is aan elkeen van hulle twee komberse gegee, aangesien hulle nie saam met die reddingspan wou afkom nie.”

Hy het verduidelik dat die sneeu wat nou smelt verdere gevaar inhou omdat dit kitsvloede kan veroorsaak. “Daar het Maandagaand ʼn voertuig in Barkly-Oos weggespoel. Die bestuurder het gelukkig oorleef, maar dit is ʼn aanduiding van die gevaar wat die smeltende sneeu kan inhou.”

Gceya het gesê daar is aan die veewagters verduidelik dat die munisipaliteit se hulpbronne beperk is, veral aangesien die nasionale verkiesing Woensdag plaasvind. “Hulle verstaan ook indien hulle weer in die moeilikheid beland, is daar ʼn kans dat ons nie weer in die berge sal kan ingaan om hulle te red nie. Hulle het egter steeds geweier om hieraan gehoor te gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lou ·

Haal my hoed af vir die brawe, taai mense waarvan sommige nog kinders is.

CHRISTA ·

Ek wonder maar net waar is die ‘global warming’ waarvan gepraat word. Ek die die wetenskaplikes sit op ‘n ‘light globe’ en dis die ‘warming’ wat hulle onder hulle voel!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.