Die soektog na ʼn visserman wat naby Rooiels in die Wes-Kaap verdwyn het, duur Sondag voort, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.
“Die polisie se duikeenheid neem ook aan die soektog deel,” het Edward Rossouw, stuurman aan diens van die NSRI in Gordonsbaai, in ʼn verklaring gesê.
Die 42-jarige man se gesin het hom Saterdag as vermis aangemeld nadat hy nie ná sy visvangs by Rooiels tussen Gordonsbaai en Pringlebaai teruggekeer het nie. “Die man, van Mitchalls Plain, is Saterdagoggend omstreeks 06:00 weg om kreef te gaan vang, iets wat hy gewoonlik doen,” het Rossouw gesê. “Toe hy later nie terugkeer nie, het sy gesin onraad vermoed en hulp ontbied.”
Die man se motor en persoonlike besittings is later 2 km van Rooiels af opgespoor. Die soektog duur voort.